28 Maart 1918 – Santam geregistreer

Op 28 Maart 1918 word Santam (Suid-Afrikaanse Nasionale Trust en Assuransie Maatskappy) as maatskappy geregistreer. Dié maatskappy, sowel as verskeie ander insluitende Sanlam, het uit die sukses van die Helpmekaar-beweging voortgevloei.

Die Afrikanerrebellie het in 1914 uitgebreek nadat die regering van Louis Botha besluit het dat Suid-Afrika aan die kant van Brittanje tot die Eerste Wêreldoorlog sou toetree. Talle rebelle wat in opstand teen die regering gekom is, is tot tronkstraf gevonnis of swaar boetes opgelê. Boonop moes die rebelle ook skadevergoeding aan boere en winkeliers betaal vir goedere wat tydens die Rebellie geplunder is. Om rebelle by te staan, is die Helpmekaar Vereniging op die been gebring. Donasies is van oraloor ingesamel en was so suksesvol dat die rebelle se skuld vereffen kon word én ’n surplus van sowat £92 000 oorgebly het. Opbrengs uit dié geld word vandag nog gebruik vir studiebeurse.

“Die groot sukses van die Helpmekaar-beweging het in 1918 ook gelei tot die stigting van die versekeringsmaatskappye Santam en Sanlam,” skryf die historikus Hermann Giliomee. Santam het op 1 Mei 1918 sy deure in Kaapstad geopen, terwyl Sanlam ’n maand daarna gevolg het. Santam is vandag nog een van die grootste versekeringsmaatskappy in die land.

(Fotobron: www.santam.co.za)