28 Mei 1881 – Daniël Francois Malherbe gebore

Op 28 Mei 1881, vandag 139 jaar gelede, is Daniël Francois Malherbe in Daljosafat, naby die Paarl, gebore.

Malherbe het later bekend geword as romanskrywer, digter en dramaturg. Sy pa, P.J. Malherbe, was in 1875 een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners. D.F. se eerste letterkundige werk was die digbundel “Karroo-Blommetjies” wat in 1909 verskyn het. Hy het die bundel geskryf terwyl hy ’n skoolhoof op Carnarvon was. Hy is drie keer met die Hertzog-prys vereer (almal vir romans). Eers vir “Die meulenaar”, waarna “Hans-die-Skipper” gevolg het. Die laaste Hertzog-prys is vir die twee romans “Saul die worstelheld” en “Die profeet” aan hom toegeken. D.F. is in 1918 aangestel as professor in Afrikaans by die Grey-Universiteitskollege. Vanaf 1929 tot 1934 was hy ook hier rektor.