29 April 1902 – Skietstaking vir rugbywedstryd tydens ABO

Selfs te midde van ’n woeste oorlog is daar tyd vir  … rugby! (Wel, amper.) Op 29 April 1902 is ’n skietstaking afgekondig wat sou geld vanaf die middaguur tot sononder vir ’n rugbywedstryd tussen die Britte en die Boere op Okiep.

Boeremagte onder leiding van genl. Manie Maritz het in daardie stadium van die Anglo-Boereoorlog ’n Britse garnisoen in Okiep beleër. Op 28 April het Maritz twee manskappe na maj. Edwards gestuur met die volgende boodskap: “Dear Sir, I wish to inform you that I have agreed to a football match taking place between you and us. I, from my side, will agree to a cease-fire tomorrow afternoon from 12 o’clock until sunset, the time and venue to be arranged by you with Messrs. Roberts and Van Rooyen whom I am sending to you.” Dit is deur Maritz onderteken en versend vanaf Concordia, ’n dorpie naby Okiep.

Ongelukkig het die wedstryd nooit plaasgevind nie. In Graham Jooste se boek “Rugby stories from the platteland” (30° South Publishers, 2005) word beweer dat die wedstryd afgestel is omdat ’n geweerskoot afgevuur is, terwyl beide groepe besig was met die voorbereidings vir die wedstryd. Albei partye het natuurlik die ander vir die verbreking van die skietstilstand se voorwaardes. In “Anglo-Boer War: A chronology” (J.P. van der Walt, 2000) voer Pieter G. Cloete egter aan dat die Boere se aanbod om ’n skietstilstand aan die Britte slegs oorweeg is, maar uiteindelik van die hand gewys is.

(Foto 1: ’n Rugbybal wat uit omstreeks 1905 dateer. Bron: Rubyrelics.com; Foto 2: Enkele dae later, op 1 Mei 1902, het die Boeremagte ’n stoomlokomotief “Pioneer” vol dinamiet gelaai en ’n bewegende bom geskep om onbeman tot in Okiep te ry. Doringdraad wat oor die spoorlyn gespan was het die lokomotief laat ontspoor waarna die dinamiet uitgeval en uitgebrand het sonder om die dorp enige skade te berokken. Die beleg is op 4 Mei beëindig.)