29 Januarie 2006 – Oorspronklike Boetebessie sterf

Die oorspronklike Boetebessie, Bessie (Bibi) Liebenberg, is vandag 14 jaar gelede, op 29 Januarie 2006, oorlede. Bessie was volgens die boek “Dae uit ons geskiedenis” die eerste vroulike verkeerskonstabel in Stellenbosch en het gedurende die 1960’s en 1970’s motorbestuurders behoorlik laat les opsê omdat sy blykbaar “flink boetes aan oortreders by parkeermeters uitgeskryf” het.

Sedertdien het die naam “Boetebessie” in die volksmond houvas gekry en word dit steeds gebruik om op ’n grappende wyse na vroulike verkeersbeamptes te verwys. Die Suid-Afrikaanse grapjas, sanger en rolprentvervaardiger Leon Schuster het op sy beurt met die liedjie “Boetebessie Briekdans”, ’n bydrae gemaak om dié benaming in Afrikaans te verewig. Dié liedjie is die eerste keer ingesluit op Schuster se album “You must be joking” wat in 1986 vrygestel is. Die gelyknamige rolprent, met ’n reeks grappige video’s wat met versteekte kameras vasgevang is, het in dieselfde jaar verskyn.