29 Maart 1936 – Eugene Marais sterf

Die skrywer, digter, joernalis en natuurkenner Eugène Marais sterf op 29 Maart 1936 nadat hy selfdood pleeg op die plaas van sy vriend Gustav Preller, Pelindaba, wes van Pretoria. Onder die voorwendsel dat hy ’n slang in sy rondawel wil skiet, leen Marais op dié dag ’n haelgeweer by sy buurman, Lood Pretorius. Pretorius leen teësinnig die wapen en ’n ent weg van Pretorius se huis, neem Marais sy eie lewe.

Marais was veral bekend as digter. Sy geliefde gedig “Winternag” verskyn die eerste keer in Junie 1905 en is deur talle as ’n belangrike mylpaal in Afrikaans poësie geag. Gedurende sy leeftyd was Marais onder meer redakteur van die koerant “Land en Volk”, ’n advokaat, ’n dokter en natuurkundige wat in die Waterberge termiete en bobbejane bestudeer het. Sy bevindinge is in die 1930’s gepubliseer as “Burgers van die berge” en die “Siel van die mier”. Die skrywer Chris Barnard reken Marais word “steeds beskou as een van die merkwaardigste mense wat ons land nog opgelewer het”.

In ’n lewensoorsig oor Marais wat in 2012 op Litnet verskyn het, skryf Barnard: “Hy [Marais] was ’n merkwaardige digter, ’n politieke rebel, invloedryke joernalis, kenner van dieregedrag, prokureur, kampvegter vir Afrikaans, sterrekundige, ‘wonderdokter’, prospekteerder, storieverteller, swerwer en dwelmverslaafde. Ten spyte van min formele opleiding, ’n totale gebrek aan fondse en geen ondersteuningsbasis nie het hy wetenskaplike navorsingsresultate gelewer wat eietydse natuurkenners steeds verstom.” Marais was getroud met Lettie Beyers. Sy het egter agt dae na die geboorte van hul enigste kind, Eugène Charles Gerard, aan kraamkoors gesterf.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

(Foto’s: ’n Jong Marais en die gedig “Winternag” in Marais se eie handskrif. Bron: Wikiwand)