29 September 1969 – Aardbewing tref Tulbagh

Vandag 51 jaar gelede, op 29 September 1969, tref ’n aardbewing Tulbagh, die vierde oudste dorp in Suid-Afrika, en lei tot die dood van minstens nege mense (sekere mediaberigte het verwys na tien sterftes, maar daar is later bevind dat die tiende sterfte onverwant was).

Dié skudding het 6,5 op die Richterskaal gemeet en het talle geboue in die dorp verwoes. Dit was die ergste aardbewing wat Suid-Afrika nóg getref het. Dit het die dorp teen 22:04 geskud, tussen 15 en 30 sekondes geduur en is tot sover as Kaapstad, Upington en Durban gevoel. Talle struktureel swakker geboue in Tulbagh en Ceres is ernstig beskadig, terwyl skade ook aan paaie, damwalle en pyplyne aangemeld is. Die gebied het vanaf September 1969 tot November 1971 nog naskokke – 125 in totaal – ondervind. 

(Foto’s: Die voorblad van “The Cape Times” op 30 September 1969 berig oor die aardbewing wat die Boland getref het; en die beskadigde kombuis van die Drostdy op Tulbagh (bron: Tulbagh-museum).)