3 Julie 1901 – Kmdt. Barend Celliers onskuldig bevind op moord aanklag

Barend Celliers – die man wat twee keer onskuldig bevind is vir dieselfde moord.

Op 3 Julie 1901, vandag 119 jaar gelede, is die saak van kmdt. Barend Celliers tydens ’n algemene krygsraadvergadering van die OVS bespreek. Die vergadering het ook as krygshof gedien. Celliers is van moord aangekla, nadat hy in Januarie 1901 ’n Britse krygsgevangene, lt. Cecil Boyle, doodgeskiet het. Celliers het egter aangevoer dat hy die teregstelling in opdrag van sy bevelvoerende offisier, genl. Philip Botha, uitgevoer het. Aangesien Botha in Maart 1901 dood is kon Celliers se verweer nie bevestig word nie.

In hul studie oor die militêre verhore in die OVS skryf die regsgeleerde Jaco de Bruin en die historikus prof. André Wessels soos volg oor die voorval: “Celliers en Smallberger het Boyle na ’n plaas in die omgewing van Bethlehem geneem. Hier is Boyle in kennis gestel dat hy tereggestel sou word. Boyle het onmiddellik versoek om na Philip Botha geneem te word en sy saak daar te bepleit. Celliers het egter geweier en aan Boyle geleentheid gebied om ’n brief te skryf en te bid. Hierna het Celliers ’n paar treë van Boyle weggestaan en Boyle met ’n Mauser-geweer in die rug verwond. Smallberger verklaar dat Celliers daarop nader gestap het en Boyle op ’n kort afstand in die kop geskiet het, waarna hy en Celliers vir Boyle begrawe het.”

Die krygsraad het beslis dat Celliers nie skuldig was aan moord nie aangesien hy in opdrag van sy bevelvoerende offisier opgetree het. Die het egter nie die einde van die saak beteken nie en aan die einde van die oorlog is slegs drie Boere – waarvan Celliers een was – uitgesluit van die algemene amnestie kragtens die Vrede van Vereeniging. Hy is weer in Februarie 1903 op aanklag van moord verhoor. Op 23 Februarie is hy in die hof van die Orange River Colony weereens onskuldig bevind en vrygelaat. Lees De Bruin en Wessels se volledige studie oor dié saak hier.

(Foto: Barend Celliers, bron: South African Military History Journal)