3 Oktober 1953 – Internasionale terminaal open by Jan Smuts

Op 3 Oktober 1953 open die toenmalige minister van vervoer, Ben Schoeman, die internasionale terminaal by die Jan Smuts-lughawe in Kempton Park.

Dié lughawe, wat intussen na die Johannesburg Internasionale Lughawe en meer onlangs na die O.R. Tambo Internasionale Lughawe hernoem is, is in 1952 amptelik geopen.

Jan Smuts-lughawe het die Palmietfontein Internasionale Lughawe – destyds geleë aan die suide van Johannesburg – vervang. Internasionale vlugte is vanaf 1945 van die Palmietfontein-lughawe onderneem.

O.R. Tambo Internasionale Lughawe is (gebaseer op 2019-data) die besigste lughawe in Afrika, gevolg deur Kaïro Internasionale Lughawe in die Egiptiese hoofstad en Bole Internasionale Lughawe in Addis Abeba, Ethiopië. In 2017/2018 is net meer as 220 600 vlugte (plaaslik en internasionaal) vanaf O.R. Tambo onderneem.

Die dag ná die opening van die internasionale terminaal by Jan Smuts (op 4 Oktober 1953), het die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se eerste stralervlug vanaf dié lughawe opgestyg vir ’n historiese vlug na Londen. Hierdeur het die SAL die eerste lugredery buite Brittanje geword om stralervliegtuie in sy vloot te gebruik.

(Foto: Jan Smuts-lughawe se terminale in 1953 van binne en buite, bron: https://atom.drisa.co.za/index.php/johannesburg-1953-jan-smuts-airport-terminal-buildings)