3 September

  • 1800: Adriaan van Jaarsveld en Marthinus Prinsloo, die twee rebelle wat in 1795 die sogenaamde “Republiek van Graaff-Reinet” tot stand gebring het, word ter dood veroordeel. Van Jaarsveld en Prinsloo was onderskeidelik president van die krygsraad en landdros. Van Jaarsveld se teregstelling is uitgestel en hy is uiteindelik in 1803 in aanhouding dood.
  • 1919: Jan Smuts volg genl. Louis Botha op as eerste minister van die Unie van Suid-Afrika en word ingehuldig. Smuts word wêreldwyd erken as ʼn vooraanstaande intellektueel wat onder meer lof ontvang het vir sy bydrae tot die totstandkoming van die Volkebond (voorloper van die Verenigde Nasies). Smuts het egter ook in sy loopbaan onder kritiek deurgeloop veral vir sy hantering van die 1914-rebellie.