30 Januarie 1908 – Mahatma Gandhi vrygelaat deur Smuts

Op 30 Januarie 1908 word die Indiese aktivis Mohandas (Mahatma) Gandhi deur die Transvaalse koloniale sekretaris, generaal Jan Smuts, uit die tronk vrygelaat. Gandhi en 15 ander Indiërs is op 7 Januarie in Volksrust in hegtenis geneem omdat hulle sonder die nodige registrasiedokumente die Transvaal binnegekom het. Hulle is tot twee maande gevangenisstraf met harde arbeid gevonnis.

Gandhi het in 1893 as 25-jarige prokureur na Suid-Afrika gekom, maar weens die rassediskriminasie wat hy hier ervaar het twee jaar later die Natal Indian Congress gestig. Nadat hy die land in 1902 verlaat het, keer hy terug in 1906 om deur middel van ’n strategie van lydelike verset steun aan Transvaalse Indiërs te gee wat weens wetgewing onderdruk is. Daarvolgens moes Indiërs onder meer passe dra.

(Dié foto toon Gandhi voor sy regsfirma in Johannesburg.)