30 Januarie 1915 – Rebellieleiers vergader oor voorwaardes van hul oorgawe

Op 30 Januarie 1915 vergader die twee rebellieleiers Jan Kemp en Manie Maritz tussen Christiana en Upington met Jaap van Deventer van die Unieverdedigingsmagte oor die voorwaardes van hul oorgawe.

Die Rebellie het misluk en daardie nag onderteken Kemp en Maritz die ooreenkoms voordat hulle die volgende dag na hul kommando’s terugkeer. Die formele oorgawe van Kemp en Maritz se rebelle vind drie dae later – op 2 Februarie 1915 – plaas. Die Rebellie van 1914 het daarmee formeel ten einde geloop.

Maritz het nie self oorgegee nie en besluit om na Duitswes-Afrika te gaan. Kemp het teen die einde van Januarie gebuk gegaan onder swartwaterkoors en is op 2 Februarie per ambulans na ’n hospitaal op Upington geneem waar hy twee weke lank versorg is.

Lees meer hieroor in Die Afrikanerrebellie, 1914-1915. Dié omvattende geskiedenis oor die Rebellie van 1914 is beskikbaar in Kraal Uitgewers se e-winkel en is deel van die gewilde Erwe van ons vaad’re-reeks. Kry joune vandag nog.

(Foto’s: Genl. Jaap van Deventer, later sir Jaap. Hy het namens die Unieregering met die Rebelle-kommando’s van genls. Maritz en Kemp oor oorgawe van die Rebelle onderhandel; Ná die gevegte tussen die Rebelle van genl. J.C.G. Kemp se kommando en Unieverdedigingsmagte te Upington het die samesprekings oor die oorgawe van die Rebellemagte met genl. Van Deventer in ’n tent wat spesiaal vir dié geleentheid opgeslaan is, plaasgevind. In die foto sit v.l.n.r.: genl. S.G. Maritz (eerste), genl. Van Deventer (tweede) en genl. Kemp (vierde). Hulle was waarskynlik onbewus daarvan dat dié foto geneem word.)