30 Maart 1947 – Britse koningsgesin besoek SA

Op 30 Maart 1947 woon generaal Jan Smuts en die Britse koningsgesin saam ’n erediens by in die Grootkerk in Bosmanstraat, Pretoria. Die koninklike gesin het in 1947 op Smuts se uitnodiging die Unie besoek. Die gesin het meer as 16 000 kilometer gereis om hul verpligtinge tydens dié besoek na te kom. In sy boek “Jan Smuts: Afrikaner sonder grense” skryf Richard Steyn soos volg oor dié besoek: “Ná die guurheid van die oorlogsjare [van die Tweede Wêreldoorlog] het die publiek die seldsame en genotvolle skouspel van die koninklike besoek geniet en die besoekers is oral vriendelik en gasvry ontvang. Soos te verwagte, het die opposisie gekla dat die oefening ’n duur vermorsing van openbare geld was en net die regering se politieke agenda bevorder het. Die Nasionaliste se koerant, Die Transvaler, onder redaksie van HF Verwoerd, het selfs geweier om kennis te neem van die koninklike gesin se besoek. Foto: Jan Smuts (tweede van links) saam met die koninklike gesin in die Drakensberge. Heel links is prinses Elizabeth (wat haar 21ste verjaardag tydens die besoek gevier het), Smuts, koning George VI, koningin Elizabeth en prinses Margaret.