30 Oktober 1937 – Afrikaanse skrywer en politieke aktivis J.H.H. de Waal sterf

Op 30 Oktober 1937 sterf die Afrikaanse skrywer en politieke aktivis J.H.H. (Jannie) de Waal.

In sy boek Verset & opbou: Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans skryf die taalhistorikus Jaap Steyn soos volg oor De Waal: “De Waal het grootgeword in Kaapstad, waar daar soos elders gespot is met die taal van Die Afrikaanse Patriot. Sy eerste indrukke daarvan was egter “aangenaam”, selfs “inspirerend”; “ek het gevoel dat ek hier te doen het met ’n maklik te verstane, gesellige huisvriend”.

Dit vertel hy [De Waal] in sy Herinnerings van ons taalstryd. Steyn vergelyk ook die werk van De Waal en C.J. Langenhoven met mekaar en skryf: “Die twee Afrikaanse skrywers wat die meeste as politieke aktiviste opgetree het, was J.H.H. (Jannie) de Waal en C.J. Langenhoven. Daar is merkwaardige ooreenkomste tussen die twee. Albei was redakteurs en regsgeleerdes. Hulle was ook politici wat die voorlaaste belangrike stappe vir die erkenning van Afrikaans gedoen het. Albei was koppige mense, wat nie altyd na goed bedoelde raad wou luister nie.”

Lees meer oor dié koppige taalaktiviste in Verset & opbou. Die boek is beskikbaar teen R300 in die Kraal e-winkel.