30 September 1901 – Cornelis Broeksma deur Britse vuurpeloton tereggestel

Op 30 September 1901 is die 38-jarige Nederlandse staatsaanklaer van Johannesburg, adv. Cornelis Broeksma, in die openbaar deur ’n Britse vuurpeloton in dié stad tereggestel.

Broeksma het ernstige kritiek op die omstandighede in die plaaslike konsentrasiekamp, wat hy dikwels besoek het, gelewer en daaroor geskryf in verskeie verslae. Sekere van sy kommentare is ook waarskynlik onder ’n skuilnaam in die media gepubliseer en hy het ook gekodeerde boodskappe aan die Nederlandse ambassadeur gestuur. Volgens ’n studie getiteld A war of words: Dutch pro-Boer propaganda and the South African War (1899-1902) deur J.J.V. Kuitenbrouwer van die Universiteit van Amsterdam, het die Britse owerhede Broeksma in hegtenis geneem en aangekla van hoogverraad. Hy het na bewering ’n pamflet saamgestel waarin ’n beroep gedoen is op die moord van ’n prominente lid van die Britse gemeenskap in Transvaal.

Broeksma se lot maak dit duidelik, meen Kuitenbrouwer, dat mense wat gepoog het om dokumente aan pro-Boereorganisasies in Europa te stuur, groot risiko geloop het in hul pogings. Ná Broeksma se dood is pamflette (sien foto uit Kuitenbrouwer se verslag) in Nederland versprei waarin Broeksma as ’n “held” en “martelaar” bestempel word wat “Engeland voor die regbank van menslikheid aankla”.