30 September

  • 1901: Die Slag van Moedwil vind tydens die Anglo-Boereoorlog plaas. Nadat die geveg sowat twee ure geduur het, gee genl. Kemp aan sy bevelvoerders die opdrag om te onttrek. Ene Piet Schuil en twee ander burgers word met ʼn wit vlag na die Britse linies gestuur. Daar word egter op Schuil-hulle geskiet, waarna hy die wit vlag van sy geweer verwyder en terugskiet. Schuil word later aangekeer, skuldig bevind aan die misbruik van die wit vlag en ter dood veroordeel. (Bron: The Anglo-Boer War: A Chronology deur Pieter G. Cloete)
  • 1901: Cornelis Broeksma, ʼn prokureur van Holland, word aan verraad skuldig bevind en in die openbaar deur ʼn Britse vuurpeloton in Johannesburg tereggestel. Dit volg nadat hy inligting oor die toestande in die konsentrasiekampe tydens besoeke aan die kampe versamel en aan Europese koerante gesmokkel het. Broeksma word oorspronklik by die fort waar hy tereggestel is, begrawe. Sy liggaam word later op versoek by die Braamfontein-begraafplaas herbegrawe.
  • 1931: Die Oorlogsmuseum by die Vrouemonument in Bloemfontein word deur genl. J.B.M. Hertzog geopen. Op dieselfde dag word die Voortrekker Beweging ook in Bloemfontein gestig en dr. N.J. van der Merwe word as eerste hoofleier verkies.
  • 1888: Paul Roos, legendariese Suid-Afrikaanse rugbyspeler, word op die plaas Rus en Vrede in die Stellenbosch-distrik gebore. Roos gee die naam Springbokke aan die nasionale rugbyspan en is self van 1906 kaptein van dié span. Gedurende sy loopbaan is hy onder meer ʼn gewaardeerde onderwyser en hy word op die ouderdom van 27 hoof van die Jongenskool op Worcester, waarna hy op 29 hoof van Paul Roos Gimnasium word.
  • 1949: Ben Schoeman kondig aan dat die Nasionale Party sal voortgaan met sy beleid van apartheid, ongeag die ekonomiese probleme.