31 Augustus 1901 – Jack Hindon verwoes Britse trein

Op 31 Augustus 1901, vandag 119 jaar gelede, verwoes Jack Hindon en sy manne ’n trein tussen Waterval en Hammanskraal, noord van Pretoria.

In dié stadium van die Anglo-Boereoorlog het die Boeremagte reeds tot guerrillaoorlogvoering oorgegaan en onder meer treine en treinspore geteiken in aanvalle. Die Boerekrygers het langs die spoor gewag en die oorlewendes tot oorgawe gedwing tydens dié aanval – die vierde van sy soort in Augustus 1901. In sy boek The Anglo-Boer War: A Chronology skryf Pieter G. Cloete dat sommige Britte geweier het om oor te gee, waarna op hulle gevuur is. Ammunisie, dinamiet en kosvoorrade is gebuit. Nagenoeg 20 manskappe, een offisier en een vrou is in die voorval beseer, terwyl ’n offisier, 13 manskappe, een burgerlike en twee swart mans dood is. Treinvernielers: Boere-aanvalle op en vernietiging van treine, stasies en spoorlyne in die ZAR tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 deur Tian Schutte en Peet Coetzee vertel die geskiedenis van dié aanvalle. Treinvernielers bied ’n breedvoerige geskiedenis van die aanvalle sowel as die persone wat deel was van die gedugte treinvernielerspanne – manne soos kaptein Jack Hindon en luitenant Henri Slegtkamp. Die honderde foto’s (sommige kundig digitaal “ingekleur” en hermeester), handige kaarte sowel as ’n volledige chronologiese bylaag waarin elke gedokumenteerde aanval gelys en bespreek word, maak van Treinvernielers enig in sy soort en ’n waardevolle bydrae tot die dokumentering van die Anglo-Boereoorloggeskiedenis. Dié boek is beskikbaar in Kraal Uitgewers se e-winkel.

(Foto’s: ’n Verwoeste spoorlyn en trein by die Kaapmuidenbrug ná ’n suksesvolle Boereaanval gedurende die Anglo-Boereoorlog; en ’n foto, hermeester deur Tinus le Roux, toon ’n groep Boerekrygers langs ’n spoorlyn tydens die Anglo-Boereoorlog. Bron: Treinvernielers)