31 Maart 1900 – Slag van Sannaspos

Vandag 120 jaar gelede, op 31 Maart 1900, vind die Slag van Sannaspos gedurende die Anglo-Boereoorlog plaas. In hierdie veldslag, wat sowat 30 km oos van Bloemfontein plaasgevind het, het generaal Christiaan de Wet (sien skets) en sy Boerekrygers te staan gekom teen nagenoeg 1 700 Britte onder brigadier-generaal R.G. Broadwood. Dié slag word as een van De Wet se grootste suksesse as krygsheer beskou. Dit is ook die eerste noemenswaardige guerrilla-operasie wat De Wet gedurende die oorlog sou uitvoer.

Jan van der Merwe skryf in die boek “Vrystaatse dorpe” die volgende oor De Wet se ervarings van dié veldslag: “Hy het … gesê dat hy die burgers nog nooit so onverskrokke sien veg het nie. Hulle kalm en vasberade optrede was vir hom ’n bewys van die Afrikaner se heldhaftigheid wat volgens hom, deur niemand in die skadu gestel kon word nie.” Die Boere het volgens Van der Merwe tydens dié slag sewe kanonne, 150 waens, 550 gewere, 2 000 perde en beeste en ’n groot hoeveelheid ammunisie by die Britte gebuit. Drie Boere het tydens die Slag van Sannaspos gesneuwel en hoewel Britse bronne verskil het daar minstens 18 Britte gesterf, terwyl 118 gewond en meer as 400 krygsgevange geneem is.

 

(Foto: Die foto toon die stasiegebou by Sannaspos. Volgens South African History Online het die Q Battery van die Royal Horse Artillery in dié gebou skuiling geneem tydens die Slag van Sannaspos. Die sandsteengebou is kort voor die uitbreek van die oorlog voltooi. Bron: SAhistory.org.za)