4 Junie 1900 – Jan Smuts onttrek ZAR se fondse

Vandag 120 jaar gelede, op 4 Junie 1900, slaag die staatsprokureur van die ZAR, Jan Smuts, uiteindelik daarin om – deur middel van ’n lasbrief vir inhegtenisname – die direkteure van die Nasionale Bank in Pretoria te oortuig om die kontant en goud ter waarde van sowat £500 000 van die ZAR aan hom te oorhandig.

Tyd was nou van kritieke belang, want die Britte het Pretoria genader en het die hoofstad ure later, op 5 Junie, ingeval. Die onttrekking van alle regeringsfondse was een van die belangrikste take wat Smuts moes afhandel vóór die oorgawe van Pretoria. Die geld was broodnodig in die befondsing van die Boerekommando’s gedurende die Anglo-Boereoorlog en ná die ZAR-regering enkele dae tevore die stad verlaat het, is verskeie take, insluitende die onttrekking van alle regeringsfondse, aan Smuts opgelê. In sy nuwe boek “Donkerhoek, 11-12 Junie 1900: Keerpunt in die Anglo-Boereoorlog” skryf Andries Breytenbach soos volg oor dié gebeure: “Al die geld en goud is onder polisietoesig op ’n spesiale trein geplaas en die middag van 4 Junie onder toesig van die munt se boekhouer, Eduard Meyer, en ’n betroubare wag na die nuwe regeringsetel versend. Dit was naelskraap, want teen daardie tyd het die Britse bomme reeds op die stasie en spoorlyn te Sunnyside begin val.” Smuts het Pretoria dieselfde dag nog verlaat.

Besoek www.kraaluitgewers.co.za vir meer inligting oor “Donkerhoek, 11-12 Junie 1900”. Dié boek is die derde in Kraal Uitgewes se Kraal Histories-reeks en staan onder redaksie van prof. Fransjohan Pretorius.

(Foto: Jan Smuts gedurende die Anglo-Boereoorlog.)