4 Maart 1890 – Argitek Gerard Moerdijk gebore

Op 4 Maart 1890 – vandag 130 jaar gelede – is die argitek van die Voortrekkermonument, Gerard Moerdijk, op ’n plaas buite die destydse Nylstroom gebore. Moerdijk is beskryf as “talentvol, intelligent, ’n goeie spreker en skrywer en ’n dinamiese voorstander van ’n volksegte argitektuur”. Benewens die Voortrekkermonument, was hy ook die argitek van minstens 80 kerkgeboue.

Die “volksegte” stempel wat Moerdijk op sy werk afgedruk het, is beslis sigbaar in die ontwerp en simboliek van die Voortrekkermonument in Pretoria. Die laermuur rondom die monument bestaan uit 64 waens en beeld die 64 waens uit wat tydens die Slag van Bloedrivier in ’n laer getrek was en simboliseer die waens se beskerming van die monument.

Voorts is die bekende sonstraal wat jaarliks om 12:00 op 16 Desember deur die boonste koepel van die monument op die senotaaf (waarop die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika” staan) skyn, simbolies van die seën van God wat op die werk en strewes van die Voortrekkers gerus het.

Lees meer oor die simboliek wat verweef is in dié monument, wat as die hoogtepunt van Moerdijk se loopbaan as argitek beskou word, op die webblad van die monument.

(Bron: www.vtm.org.za en Wikimedia Commons)