6 Mei 1958 – Margaret Rheeder in Pretoria gehang

Op 6 Mei 1958 word Margaret Rheeder in Pretoria gehang.

Sy is ter dood veroordeel vir die gifmoord op haar man, Benjamin. Margaret het in April 1957 miergif by ’n apteek in Port Elizabeth gekoop en die gifregister vir dié aankope onderteken. Kort daarna het Benjamin siek geword en is uiteindelik op 8 Mei dood. Daar is oorspronklik beweer dat Benjamin weens hartversaking gesterf het en dit is ook so op sy doodsertifikaat aangeteken en Benjamin is sonder verdere ondersoek begrawe. Intussen het die polisie verdag geraak oor die dood en ’n maand ná Benjamin se begrafnis is sy liggaam opgegrawe – en die bewyse was duidelik. Die nadoodse ondersoek het getoon dat Benjamin met arseen (die dodelike bestanddeel in die miergif) vergiftig is. Margaret is in Augustus 1957 in hegtenis geneem en in November skuldig bevind aan die moord. Sy het egter deurentyd daarop aangedring dat sy onskuldig is en eers op die dag van haar teregstelling oor die moord gebieg. (Bron: Rob Marsh, Famous South African Crimes)

(Foto: ’n Bottel miergif met arseen uit die 1950’s ter illustrasie, bron: worthpoint.com)