6 September 1966 – Dr. H.F. Verwoerd in sluipmoordaanval doodgesteek

Dr. H.F. Verwoerd, eerste minister van Suid-Afrika, is vandag 54 jaar gelede, op 6 September 1966, in ’n sluipmoordaanval in die parlement doodgesteek.

Die sluipmoordenaar, Dimitri Tsafendas, was van Grieks-Portugese afkoms en het as ’n bode in die parlement gewerk. Hy is nooit gevonnis vir die moord nie en is waansinnig verklaar. Hy is met skisofrenie gediagnoseer. Dié aanval was nie die eerste aanval op Verwoerd se lewe nie. Die eerste minister is op 9 April 1960 twee keer in die gesig geskiet. Volgens ’n berig oor die 1966-aanval wat in 2016 op Netwerk24 verskyn het, het Tsafendas dieselfde oggend nog drie messe in ’n winkel in die Kaap gaan koop. Hy het Verwoerd met ’n dolk van agt duim aangeval en hom vier keer gesteek – een keer in die hart, een keer agter die linkersleutelbeen, een keer naby sy regterarmholte en een laer af. Verwoerd is na die aanval na die Grootte Schuur-hospitaal gejaag, maar is daar dood verklaar.

Elsjé Waldeck skryf soos volg oor Suid-Afrika se reaksie op Verwoerd se moord: “Die dag van sy moord mag adverteerders tot 05:00 die volgende oggend nie op radio adverteer nie, want daar was net genoeg tyd vir nuusbulletins oor die moord. Wanneer daar nie nuus was nie, is gewyde musiek gespeel om die geliefde minister te vereer. Rugbywedstryde is uitgestel, die bioskoop en konserte is gekanselleer … vroue het ‘openlik in trane uitgebars’ toe hulle die nuus verneem het.”