7 Junie 1989 – Joan Horn verdwyn

Op 7 Junie 1989, vandag 31 jaar gelede, verdwyn Joan Horn, ’n 12-jarige skoolmeisie van Pretoria.

Horn was na beweging een van minstens ses meisies wat in 1988 en 1989 deur die pedofiel Gert van Rooyen met die hulp van sy vriendin Joey Haarhoff, ontvoer is. In haar boek “Battered, abused, shamed” skryf Carla van der Spuy dat Horn daardie dag teen ongeveer 15:30 in Wespark, Pretoria, ontvoer is. Sy was op pad na ’n hondeskou by haar skool, toe ’n blonde vrou in ’n wit Bantam-bakkie haar, volgens skoolvriende, voorgekeer het. Die vrou het Horn na bewering R20 aangebied om haar te help om iemand by ’n nabygeleë winkelsentrum te gaan soek. Wat van die meisies geword het, bly steeds onbeantwoord. Onlangse mediaberigte (in November 2019) voer aan dat privaat ondersoekers die moontlikheid ondersoek dat die slagoffers in ’n mensehandel-operasie vanaf die Durbanse hawe na Mauritius vervoer is. In ’n artikel wat in November in “The Witness” verskyn het, voer ’n privaat ondersoeker en afgetrede polisieman, Don Chandler, aan dat ondersoekers bewyse het dat Van Rooyen die Durbanse hawe gereeld besoek het en dat hy moontlik kontakte by die hawe gehad het wat hom met die vervoer van die meisies bygestaan het.