7 Maart 1902 – Slag van Tweebosch

Vandag 118 jaar gelede het die Boeremag, onder leiding van genl. Koos de la Rey, hul laaste groot oorwinning tydens die Anglo-Boereoorlog behaal by die Slag van Tweebosch (ook bekend as die Slag van Klipdrift). In ’n blitsige geveg het die Boere daarin geslaag om lord Methuen se mag suksesvol aan te val en te verdryf. Dié slag wat naby Sannieshof plaasgevind het, het tot groot ongevalle vir die Britte gelei. Nagenoeg 70 Britte is dood, 121 gewond en meer as 800 soldate, waaronder Methuen, is gevange geneem. Methuen is tydens die slag gewond en ten spyte van sterk teenkanting van verskeie burgers het De la Rey dié Britse krygshoof vrygelaat sodat hy die nodige mediese sorg kon kry. Reëlings is ook getref om Methuen se vrou per telegram oor haar man se toestand in kennis te stel en Nonnie, De la Rey se vrou, lê selfs by Methuen besoek af.

Lees meer oor dié veldslag sowel as die De la Rey-egpaar se optrede teenoor Methuen in “Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog en “Nonnie de la Rey: Pionier van die Wes-Transvaal, 1856-1923”. Beide boeke is beskikbaar in Kraal Uitgewers se e-winkel.

(Die skildery toon die gewonde lord Methuen in die voorgrond en genl. De la Rey op die wit perd. Bron: “Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog”)