7 November 2020 – Slag van Leliefontein

Op 7 November 1900, vandag 120 jaar gelede, vind die Slag van Leliefontein (ook bekend as die Slag van Witkloof) gedurende die Anglo-Boereoorlog plaas.

Die slag wat suidoos van Belfast plaasgevind het, het ’n klein kommando onder leiding van genl. Joachim Christoffel Fourie teenoor ’n mag van nagenoeg 1 400 soldate onder genl.maj. Smith-Dorrien te staan gebring. Die mag het bestaan uit soldate van die Canadian Mounted Rifles, die Royal Canadian Dragoons en ’n seksie van die Royal Canadian Field Artillery se D-battery. Die mag het die Boerekommando die vorige dag reeds suid oor die Komatirivier gedwing.

Nadat Smith-Dorrien teruggetrek het in die rigting van Belfast het die Boere die volgende oggend (7 November) tot ’n teenaanval oorgegaan. Genl. Fourie (sien foto van graf) en kmdt. Hendrik Prinsloo – albei van Carolina – sneuwel in dié slag toe hulle aan die voorpunt van ’n stormloop probeer om die Britte se veldkanonne af te neem, terwyl genl. J. Grobler gewond word.

Hoewel die Boere sterk aangeval het, het die verlies van hul leiers ’n groot invloed op die res van die verloop van die aanval gehad. Die Canadian Dragoons het ernstige verliese gely in die slag. Uit die 95 manne uit dié eenheid wat aan die slag deelgeneem het, het 31 gesneuwel. Dit word as die swaarste slag vir Kanadese soldate tydens die oorlog beskou en ’n aantal Kanadese is met die Victoria-kruis vereer vir hul dapperheid tydens die geveg. 

(Foto: Kanadese soldate van die Canadian Mounted Rifles in Transvaal tydens die Anglo-Boereoorlog. Bron: https://www.thecanadianencyclopedia.ca/en/article/south-african-war)