7 Oktober 1854 – Genl. Christiaan de Wet gebore op die plaas Leeuwkop

Genl. Christiaan de Wet is vandag 166 jaar gelede, op 7 Oktober 1854, op die plaas Leeuwkop in die Smithfield-distrik gebore.

Hy is op 19-jarige ouderdom met Cornelia Kruger getroud – ’n huwelik waaruit 16 kinders gebore is. De Wet het aan die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) deelgeneem, maar word veral onthou vir sy deelname aan die Anglo-Boereoorlog (1899-1902). Hy het hom vroeg in die oorlog al as uitmuntende leier onderskei, maar dit was juis die latere guerrillaoorlogvoering waarin De Wet tot sy volle reg gekom het.

Hy behaal by Sannaspos, Mostertshoek en Rooiwal met guerrilla-taktiek één oorwinning ná die ander. “Dit bring nie net sy naam op die lippe van die ganse beskaafde wêreld nie, maar gee aan die hele oorlog ’n nuwe dimensie, nl. om dit so lank as moontlik uit te rek en op dié wyse die vyand tot ’n wapenstilstand te dwing. In die Vrystaat word die stryd uiteindelik ’n stryd om die persoon van De Wet,” skryf die historikus prof. M.C.E. van Schoor. Dié historikus het De Wet ook as “die Afrikaner se grootste krygsman” beskryf.

De Wet onderteken op 31 Mei 1902 die vredesooreenkoms as waarnemende staatspresident van die Vrystaat teen wil en dank (omdat pres. M.T. Steyn ernstig siek was). Ná die oorlog het hy gaan boer en ook later weer die politiek betree en is as minister van Landbou aangestel. In 1910 was hy lid van die Nasionale Konvensie wat die Unie van Suid-Afrika tot stand gebring het en in 1914 word hy medestigter van die Nasionale Party. Later daardie jaar neem hy die wapen op teen die regering as deel van ’n Afrikanerrebellie. Hy word gevange geneem en aan hoogverraad skuldig bevind, waarvoor hy ’n groot boete én tronkstraf van ses jaar opgelê word. Hy gaan woon aan die einde van sy lewe op die plaas Klipfontein buite Dewetsdorp, en sterf daar op 3 Februarie 1922.

Lees meer oor De Wet se betrokkenheid in die Eerste Vryheidsoorlog in die bekroonde publikasie Eerste Vryheidsoorlog, 1880-1881 deur dr. Jackie Grobler. Die boek is beskikbaar in Kraal se e-winkel. Die boek Afrikanerrebellie, 1914-1915 is ook in die e-winkel beskikbaar.