7 Oktober

  • 1837: Piet Retief steek die eerste keer die Drakensberge oor om Port Natal en koning Dingane te besoek. Hy beskryf die streek as die mooiste wat hy nog in Afrika gesien het.
  • 1854: Geboortedag van Generaal Christiaan de Wet. Hy is op die plaas Leeuwkop naby Smithfield gebore. Hy sou later die hoofkommandant van die Vrystaatse magte gedurende die Anglo-Boereoorlog wees.
  • 1899: Die Britse weermag word opdrag gegee om te mobiliseer. Die eerste groep soldate om gemobiliseer te word vir die aanval op die ZAR en die Republiek van die Oranje-Vrystaat was 47 551 manskappe sterk.
  • 1901: Die 18-jarige Kaapse rebel, J.H. Roux, word deur ʼn Britse vuurpeleton in Graaff-Reinet tereggestel nadat hy aan hoogverraad gedurende die Anglo-Boereoorlog skuldig bevind is. (Vier dae later is twee mans, J.W.G. Jansen en ʼn ene mnr. Rautenbach ook tereggestel; dié keer in Vryburg, nadat hulle aangekla is van diefstal van Britse perde.)
  • 1999: Dimitri Tsafendas, die man verantwoordelik vir die sluipmoordaanval op die destydse eerste minister dr. H.F. Verwoerd, sterf in die ouderdom van 81 r in die Sterkfontein Psigiatriese Hospitaal op die Wesrand. Tsafendas het in 1966 ʼn tydelike pos as parlementêre bode aanvaar. Sowat ʼn maand nadat hy in dié pos begin werk het, het hy met ʼn versteekte dolk op Verwoerd afgestorm en hom verskeie kere in die bors gesteek. Tydens ’n geregtelike ondersoek is bevind dat hy ongeskik vir verhoor is omdat hy aan ’n geestestoestand (skisofrenie) gely het.