7 September 1801 – Voortrekkerleier Sarel Arnoldus Cilliers gebore

Op 7 September 1801, vandag 219 jaar gelede, is die godsdienstige leier van die Voortrekkers Sarel Arnoldus Cilliers op die plaas Schoongezicht in die Klein Drakenstein-distrik gebore.

Hy woon saam met sy ouers later in die Graaff-Reinet- en Nieu-Bethesda-distrikte voordat hulle later in die Nuwe Hantam vestig. Op 34-jarige ouderdom sluit Cilliers by die Potgieter-trek aan en neem onder meer deel aan die Slag van Vegkop.

In die Suid-Afrikaanse heldegalery word soos volg oor Cilliers geskryf: “Sy naam sal altyd aan hierdie veldtog [van die Wenkommando teen Dingaan] verbonde bly, want hy het die bewoording van die ‘Gelofte’ geformuleer en in die jare daarna sou hy telkens deur woord en daad die geloftegedagte weer voor die aandag bring. Cilliers was die besielende prediker in hierdie slag.”