9 Julie 1991 – SA mag weer aan Olimpiese spele deel neem

Op 9 Julie 1991 is Suid-Afrika deur die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) toegelaat om weer aan dié gesogte spele deel te neem.

Suid-Afrika is in 1970 amptelik uit die IOK geskors weens die land se apartheidsbeleid. In ’n berig wat op 10 Julie 1991 in The New York Times oor Suid-Afrika se hertoetrede toe die Olimpiese Spele verskyn het, word aangevoer dat sekere kenners bekommerd was dat Suid-Afrikaanse atlete, weens die jarelange uitsluiting uit internasionale sport, nie op wêreldstandaard sou wees vir die 1992 Olimpiese Spele in Barcelona, Spanje, nie. Suid-Afrika het egter steeds twee silwermedaljes by die spele ingepalm. Die langasem Elana Meyer het ’n silwer in die vroue 10 000 m-wedloop verower, terwyl die tennisspelers Wayne Ferreira en Piet Norval medaljes in die mans-dubbelspel behaal het. In sy boek South Africa at the Olympic Games, 1904-2012 stel die sportfotograaf Wessel Oosthuizen en die joernalis Faffa Loubscher die legendes van Suid-Afrikaanse Olimpiese atlete bekend. Stap terug in tyd met elke Spele waaraan Suid-Afrika tot 2012 deelgeneem het. Die reis begin by die triomfantlike 2012-oorwinnings van sporthelde soos Chad le Clos en Cameron van der Burgh en volg tot by Suid-Afrika se hertoetrede tot die Olimpiese arena in 1992. Dit word opgevolg met ’n volledige lys en besonderhede van alle Suid-Afrikaanse Olimpiese atlete wat sedert die nie-amptelike eerste deelname in 1904 tot en met 1960 aan die Spele deelgeneem het.

South Africa at the Olympic Games, 1904-2012 is beskikbaar by Kraal Uitgewers se e-winkel.

(Foto: Elana Meyer en Derartu Tulu van Ethiopië tydens die 10 000 m-wedloop wat aan Meyer ’n Olimpiese silwermedalje besorg het. Bron: Podiumrunner.com)