Adam Small: Denker, digter, dramaturg

Adam Small: Denker, digter, dramaturg (2017) het ’n jaar ná die afsterwe van dié besondere Afrikaanse skrywer verskyn en bring hulde aan dié woordkunstenaar wat in 2012 met die Hertzogprys vereer is. Die bundel bied ’n terugblik op Small as mens én skrywer en ondersoek ook temas soos die toekoms van Afrikaans en Afrikaanse letterkunde, die rol van Kaaps en selfs bendegeweld. Verskeie intieme vriende en letterkundiges het meegewerk aan dié bundel.

Jacques van der Elst, redakteur van Adam Small: Denker, digter, dramaturg, skryf die volgende oor dié bundel: “Adam Small: Denker, digter, dramaturg hoef nie as afsluiting van die gesprek oor Small se lewe en werk beskou te word nie – inteendeel: Dit bied juis ook die geleentheid om die oorkoepelende blik oor Small se kunstenaarskap as inleiding tot verdere ondersoek te benut.”

Adam Small (1936-2016) word beskou as een van die belangrikste swart Afrikaanse skrywers wat homself laat hoor het oor onderwerpe soos die onreg van apartheid en die lot van die sprekers van Kaaps. Small se bekendste werke sluit onder meer in die drama Kanna, hy kô hystoe en die digbundels Sê sjibbolet (1963) en Kitaar my kruis (1962).

Adam Small: Denker, digter, dramaturg is die eerste boek in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se huldigingsreeks van Hertzogpryswenners. Hiermee word hulde gebring aan die literêre kunstenaars wat oor dekades Afrikaans en Afrikaanse letterkunde met hul werk verryk het. Die boek is hier as deel van ‘n pakket beskikbaar en sluit die volgende bundels in wat intussen in dié reeks verskyn het: P.G. du Plessis: Hy was ’n rukkie pagter hier; Pieter Fourie: Teatermaker; breyten breytenbach: woordenaar, woordnar; en Johann de Lange 60: ’n Huldiging.


ISBN: 978-1-4853-0863-8

Kategorieë: Boeke/ Niefiksie/ Letterkunde

Spesifikasies: Portret; 220 mm x 150 mm; sagteband; 248 bladsye

Redakteur: Jacques van der Elst

Skrywers: Jacques van der Elst, Erika Terblanche, Abraham H. de Vries, Bernard Odendaal, Steward van Wyk, Hein Willemse, Marisa Keuris, Jacomien van Niekerk, Michael le Cordeur

 Uitgewer: Protea Boekhuis

Reeks: Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns Hertzogpryswenners-huldigingsreeks

Genre: Niefiksie