Afrikaans – my TROTS!

Die amptelike instelling van Afrikaans as skooltaal in 1914 mag dalk vir die jeug in 2014 soos “antieke geskiedenis” klink, maar die trots en liefde vir Afrikaans is vanjaar, 100 jaar later, steeds baie duidelik by skoolleerlinge. Die projek “Afrikaans – my TROTS!” is vanjaar op Taaldag, 14 Augustus, tydens die bekendstelling van Kraal Uitgewers se boek Ons gaan ʼn taal maak (deur Jaap Steyn) bekendgestel.

Dié projek, wat ook deur Kraal Uitgewers aangebied is, het jong, skoolgaande Afrikaanssprekendes genooi om hulle liefde vir Afrikaans te verkondig. As simboliek van die 100 jaar van Afrikaans as skooltaal is 100 video’s en klankboodskappe ingesamel om die jeug van 2014 se passie, liefde en entoesiasme vir dié taal te verwoord.

Die boodskappe, gelewer deur leerlinge van regoor die land, sal nou in ʼn tydskapsule geplaas word en aan die Taalmuseum in die Paarl geskenk word vir bewaring.

Die eerste boodskap is tydens die bekendstellingsgeleentheid, wat by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria gehou is, van die skool se onderhoofseun, Jan-Anton Theron, ontvang.

Só praat jongmense oor hul liefde vir Afrikaans

“Afrikaans is ook ʼn Boekevat-taal – daar was oupa se gebede, in keurige Afrikaans met ʼn skeutjie Hooghollands daarby. … Ons taal se woorde sing. Hulle duikel en slaan bollemakiesie. Hulle rondomtalie, wieg, bekoor. … Ons taal is prakties. Sonder nonsens. Ons timmer en werskaf nuwe woorde aan mekaar, want ons is woordmakers…” – Jan-Anton Theron, in gr. 12 by Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria.

“Afrikaans – die taal waarin ek praat, die taal waarin ek dink, die taal waarin ek droom, die taal van my hart wat ek koester, die taal waarin ek kan troos, die taal waarin ek kan bid, die taal wat kruisbeen in my hart se binnekamer sit.” – Madré Flemming, in gr. 12 by Elizabeth Conradie-skool in Kimberley

“Ek is nie Afrikaans nie, maar die taal proe so lekker op my tong. Dit klink net reg, maak sin en blom van oorspronklikheid. Is dit nie lekkerder om te sê tieners gooi ʼn ‘vloermoer’ oor huiswerk, in plaas van ʼn ‘tantrum’ nie? Ja, dit is! … Ek glo daar is ʼn bietjie Afrikaans in elkeen van ons. Afrikaans is my vierde, maar gunsteling taal.” – Pulani Reeba, gr. 12 by Hoërskool Patriot in Witbank.

“Volksliedjies, Antjie Krog, Die Burger, koeksisters, Voortrekkers, die Taalmonument en RSG – so eie aan die Afrikaanse kultuur. … Ek doen alles in my taal. Ek praat, dans, sing en leef in my taal. Johan Combrink het gesê: ‘Die taal is die hele huis van die mens se menswees.’ Ek is wie ek is omdat my taal my gevorm het, want soos ons in Afrikaans sal sê: ‘Afrikaans is ʼn lekker taal!’” – Lara van der Spuy, 16 jaar oud van die Hoërskool Durbanville in die Wes-Kaap.

Kraal Uitgewers sal vanaf 15 Desember 2017 tot 8 Januarie 2018 gesluit wees. Dismiss

AfriVriendelik-opleiding

You have Successfully Subscribed!