Alles sal regkom, as elkeen sy deel doen – Jan Brand

Twee prominente leiers van die Boererepublieke is albei op 14 Julie oorlede, presies 16 jaar uitmekaar. Meer as 100 jaar gelede, op 14 Julie 1888, is die vierde president van die Oranje-Vrystaat, Johannes Henricus Brand, oftewel Jan Brand, oorlede. Sestien jaar later sou die mees prominente Boere-leier van sy tyd, president Paul Kruger, ook op 14 Julie in 1904 in Clarens, Switzerland sterf.

Jan Brand is op 6 Desember 1823 in Kaapstad gebore en is op 14 Julie 1888 in Bloemfontein oorlede. In sy leeftyd was Brand – in teenstelling met wat dikwels van Boere-leiers geglo word – hoogs geleerd. Hy was ʼn gekwalifiseerde prokureur en ook ʼn gesoute politikus. Brand het sy regsopleiding aan die South African College in Kaapstad voltooi en later ook sy studies in Leiden in Nederland voortgesit, waarna hy ook in Brittanje verder studeer het. Hy het ná sy studies na Kaapstad teruggekeer en as ʼn advokaat in die hooggeregshof in Kaapstad gepraktiseer. As ’n hartsaak het Brand besluit om in die 1860’s na die Oranje-Vrystaat te emigreer, waarna hy in 1863 as president verkies is. Hy was aan die stuur van die Vrystaat in die tyd van ernstige konflik met die Basotho’s en die konflik wat deur sommige bronne as ʼn ernstige verarming van die Vrystaat beskou is, is uiteindelik onder Brand se leierskap beëindig.

Die ontdekking van diamante langs die Vaalrivier en Kimberley het volgens die webblad nuwegeskiedenis voorspoed vir die republiek gebring. In 1876 vertrek Brand na Brittanje en eis vergoeding vir die onwettige anneksasie van die Vrystaatse diamantvelde. Hy behaal ‘n oorwinning hier en keer terug met nagenoeg R180 000 as vergoeding vir die republiek.

Brand was tot en met sy dood in 1888 president van die Vrystaat.

Brand se nalatenskap is vandag nog in hierdie Vrystaatse provinsiale hoofstad te sien – of dit nou is by die historiese boomtuin waarvan die eerste twee bome deur Brand self in 1879 geplant is, of die ou presidensie wat die presidensiële tuiste van die laaste drie Vrystaatse presidente Brand, Reitz en Steyn was. Die Vrystaatse dorp Brandfort wat in 1866 gevestig is, is ook na hierdie legendariese president vernoem.

President Brand – sekerlik een van die grootste leiers wat die Vrystaat opgelewer het, se nalatenskap moet bewaar word en sy filosofie nagestreef word in sy bekende woorde – “Alles sal regkom as elkeen sy plig doen”.