Angola-Afrikaners en die Dorslandtrek

Wat beteken 29 April 1875 vir jou?

Dié datum lui dalk nie ʼn klokkie nie, maar dit was op daardie dag dat die eerste Dorslandtrek onder leiding van Gert Alberts na Angola vertrek het.

Ek moet erken dat ek bykans niks van dié trek geweet het nie, al het ek heelwat oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis geleer. Die Groot Trek ja, maar die Dorslandtrek is in baie opsigte ʼn onbekende deel van die Afrikaner se geskiedenis. Toe ek gaan oplees oor die trek het ek besef – dit was ons mense gewees. Mense wat met alles wat in hulle leef na vryheid gesoek het, al het dit beteken dat hulle weer die ossewa moes pak en die vreemde moes intrek.

Die trek wat vandag as die Dorslandtrek bekendstaan was, soos die Groot Trek, nie een enkele beweging van ʼn groot groep mense nie, maar eerder ʼn reeks trekke wat vanuit die ou Transvaal onderneem is.

Die trekkers het hul weg gevind deur een van die droogste dele in suider-Afrika, te wete die Kalahari, tot in Angola. Die trekke het tussen 1875 tot ongeveer 1905 plaasgevind. Bronne verskil egter oor presies wanneer daar getrek is, en sommige meen dat die trek eintlik net vanaf 1875 tot ongeveer 1892 plaasgevind het.

Een bron spesifiek meld dat die Dorslandtrek uit vyf afsonderlike trekke bestaan het. Die eerste is in na bewering reeds in 1874/1875 onderneem vanuit die Transvaal, die tweede en derde in 1877. Die vierde en vyfde trekke het eers sowat 14 jaar later in 1891 en 1892 plaasgevind. Die skrywer meld ook dat kleiner groepies later gevolg het. Na bewering spruit die naam Dorslandtrek veral uit die wedervaringe van die tweede groep trekkers wat die Transvaal verlaat het. Die trek onder leiding van Jan Greyling het veral teëspoed gekry.

Die redes vir die trekkers se besluit om die boererepublieke te verlaat, het verskil. Diegene wat gedurende die 1870’s getrek het, was onder meer ontevrede met President Burgers van die Z.A.R. se bestuur.

Dié wat egter ná die Anglo-Boereoorlog hul waens gepak het, was moedeloos met die omstandighede ná die oorlog en het as’t ware na die land van melk en heuning in Angola gaan soek. Die bekende ds. Dirk Postma het onder meer die trek toegeskryf aan die trekgees wat in die mense se harte vaardig was.

Verskeie trekke het die roete noord gevolg maar hulle is ontnugter gelaat en het groot teëspoed belewe. Die eerste trek het byvoorbeeld eers vier jaar nadat hulle die Transvaal verlaat het in Angola aangeland. Hier het trekkers met die Portugese owerheid onderhandel en hulle uiteindelik op die hoogland van Sa da Bandeira in die suide van Angola gevestig. Hier is die dorpie Humpata gestig.

Hier het die trekkers in relatiewe vrede gewoon, al is hulle nooit as landsburgers beskou nie. Een skrywer stel dit so: “Hulle is wel toegelaat om hul eie skole en kerke op te rig, maar hulle het ʼn geslote groep gebly, streng godsdienstig met hoë morele waardes en getrou aan hulle tradisies en gebruike.”

Later is daar egter besluit dat die boere by die breër gemeenskap moet inskakel. Afrikaanse skole is verbied en die werk van dié wat as transportryers gewerk het, het met die vestiging van spoorlyne in die land oorbodig geword. Dit het groot onrustigheid veroorsaak.

Later in die 1920’s het die Suid-Afrikaanse Unie en die administrasie van Suidwes- Afrika ʼn Trekker-afvaardiging saamgestel om die boere se situasie te ondersoek.

In 1928 is ʼn ooreenkoms bereik waarin bepaal is dat die trekkers in die noorde van Suidwes-Afrika hervestig sou word. Hierna het 350 gesinne, oftewel sowat 1 900 mense, Angola verlaat en hulle in Suidwes-Afrika, die huidige Namibië, gaan vestig. Teen 1958 het die sowat 600 Afrikaners wat nog steeds in Angola was, ook die land verlaat en na Suidwes-Afrika getrek. (As jy belangstel in die verhale en stories van die Angola-Afrikaners, is die boek Afrikaners in Angola wat in 2009 uitgereik is, ideaal.  Die skrywer is Nicol Stassen.)

Die geskiedenis van die Afrikaners in Angola is dalk onbekend en hoewel party mense vandag glo dat hulle verhaal ver verwyderd is van Suid-Afrikaanse Afrikaners, is dit nie noodwendig die geval nie. Die hart van die Afrikaner is in hierdie Angola-Afrikaners duidelik. Dit is dieselfde hart wat vandag nog in elke Afrikaner klop – ʼn hart wat soek na vryheid.