Antjie Somers: Waarheid of wolhaarstorie?

Die legende van Antjie Somers word al vir generasies lank vir kinders as bangmaakstorie vertel. Die verhaal van die man wat soos ʼn vrou aangetrek is en kinders gaan vang wat nie wil gaan slaap nie of wat stout is, word vandag nog gebruik om kleingoed in toom te hou. Maar waar kom dié verhaal vandaan, en steek daar enigsins waarheid in dié karakter, of is dit net ʼn blote wolhaarstorie? ILZE NIEUWOUDT het gaan uitvind.

Antjie Somers staan sy (of haar) plek in die Suid-Afrikaanse geskiedenis vol en sedert daar in Augustus 1866 vir die eerste keer amptelik van dié dief melding gemaak is, duik hy keer op keer weer in die literatuur en volksmond op. Die eerste vermelding van dié karakter was volgens die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) in die Bloemfonteinse koerant The Friend. Hiervolgens was Antjie Somers ʼn struikrower aan die Kaap wat inwoners saans geteister, aangerand en beroof het – dit alles vermom as ʼn vrou. Sekere skrywers is dit eens dat Somers sy skrikbewind aan die Kaap tydens die era van lord Charles Somerset (dus in die vroeë 1800’s) gevoer het.

Mettertyd het die verhaal van die berugte rower stertjies gekry totdat dit uiteindelik omvorm is en kinders tot gehoorsaamheid aangepor het – anders sou Antjie hulle vang. Die karakter is later so vreesaanjaend uitgebeeld in ʼn poging om kinders selfs meer die skrik op die lyf te jaag.

Anton F. Prinsloo skryf in sy boek Bygelowe en waar hulle vandaankom soos volg oor dié karakter: “Die nuwe persona het ʼn vreesaanjaende gesig met ʼn haaslip en tande soos ʼn bobbejaan gehad. Dit kon hoog spring en vlieg, selfs met een kind in die hand.” Volgens Prinsloo hou die verhaal van Somers ook op ʼn manier verband met die legende van ʼn laksman wat homself aan die bo-punt van Tuinstraat (tans Victoriastraat) in Kaapstad, opgehang het. Die laksman was volgens oorlewering uitermatig wreed en onder meer ook verantwoordelik vir die marteling van misdadigers.

Somers het die toets van tyd deurstaan, en in sy 1968-verhaal oor Antjie Somers skryf die bekende kinderverhaalskrywer Pieter W. Grobbelaar oor ʼn man, oorspronklik bekend as Andries Somers, wat die beste visserman aan die Kaap was. Volgens dié verhaal was Andries ʼn goeie man wat deur ander jaloerse vissermanne oorval is.
“Hulle kantel voor sy (Andries) vuiste,” skryf Grobbelaar, “Maar een bly te lank lê waar sy kop ʼn klip gevang het. Andries moet vlug.” Andries vermom homself, trek ʼn sisrok aan en bind ʼn doek om sy kop en vlug na ʼn plaas waar hy gaan werk. Tog kan die skindertonge hom nie uitlos nie en die mense vra vrae oor hom, die rok en kopdoek in sy huis. Hulle noem hom Antjie Somers en later raak dié gekoggel een te veel en kies hy weer die hasepad – maar hierdie keer loop sy spore dood en niemand hoor weer van hom nie. Net die stories bly oor en kinders vertel stories van ʼn ou vrou wat hulle verjaag. Die beeld van ʼn vrou met ʼn kopdoek, sisrok, mes en streepsak oor die skouer kom keer op keer in die stories op en die volwassenes begin saampraat.

Grobbelaar sluit sy verhaal oor Somers op ʼn byna tragiese noot af en beklemtoon hiermee dat die waarheid dikwels vir legendes moet plekmaak: “Andries Somers raak vergete: dapper Andries, flukse Andries, Andries wat altyd kon voorvat. Maar een storie word al luider en geslagte herhaal: ‘Antjie Somers! Antjie Somers! Antjie Somers gaan jou vang!’”

Of Andries Somers (as visserman of struikrower aan die Kaap) werklik bestaan het en of die legende bloot die maaksel van die verbeelding uit die 19de eeu was, sal dalk nooit onthul word nie. Intussen leef die verhaal in die volksmond en gediggies voort, soos dié versreëls deur die bekende digter Antjie Krog toon: “Ek is Antjie Somers / Is ek man of vrou? / Dit sal ek nooit verklap nie / Weet net as jou ma my sien / Word sy dadelik flou.”

Bron van illustrasie: http://cnx.org/contents/CNi9jAYt@1/Antjie-Somers

Open gesprek
Kort jy hulp?
Hallo daar!

Hoe kan ons help?