Befaamde Afrikaanse taalkultuurhistorikus se nuutste werk bekendgestel

Proff. Jaap Steyn en Hennie van Coller tydens die bekendstelling van Verset & opbou.

Verset & opbou: Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans is die jongste boek uit die pen van Suid-Afrika se bekendste taalkultuurhistorikus, prof. J.C. (Jaap) Steyn. Dit is op Taaldag (14 Augustus) deur Kraal Uitgewers in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein bekendgestel. By dié geleentheid, wat deur sowat sewentig gaste bygewoon is, het prof. Hennie van Coller ’n gesprek oor die boek met prof. Steyn gevoer.

Die volledige onderhoud is ook deur LitNet op video vasgelê – klik hier om daarna te kyk.

In die voorwoord by Verset & opbou skryf Steyn: “Eintlik is taalaktivisme in ’n normale samelewing onnodig. Wanneer die politieke en ander maghebbers egter taalregte misken, sal die verontregte gemeenskap daarop reageer – óf deur gedienstig en gedwee na die owerheid se pype te dans, óf self teen onreg op te tree en sodoende aktiviste te word.”

In die boek volg hy die pad van die soet én die bitter van aktivisme vir Afrikaans van die 1875-patriotte tot pogings ná 1994 om Afrikaans onder ’n nie-te-vriendelike regering te behou en te bevorder. In die proses fokus hy op die bydraes van verskeie aktiviste vir Afrikaans, insluitend pres. M.T. Steyn, S.J. du Toit, C.J. Langenhoven en N.P. van Wyk Louw. Hy probeer so nugter as moontlik kyk na die hooffigure, asook geslaagde strategieë en mislukte aksies op hierdie terrein.

Verset & opbou: Skrywers en politici as aktiviste vir Afrikaans is beskikbaar teen R300 by Kraal Uitgewers. Klik hier vir meer inligting of om die boek te bestel.