Bekroonde skrywer vier 80ste verjaardag

deur Ilze Nieuwoudt 

“Al wat myne is / is my sinne; / in sinne is alle woorde / mýne / waar ek my in kan verdiep / verborge gange oopgrawe”*

Die gevierde skrywer, digter en taalwetenskaplike Jacob Cornelius Steyn – beter bekend as Jaap, of J.C. Steyn – se woorde uit die gedig “Woord en sin” van 1975 spreek ’n waarheid (en genadiglik ook ’n leuen). Die woorde van dié digter wás dalk eens net sy eie, maar dieselfde woorde het oor die afgelope dekades ook in besit van die Afrikaanse letterkundeskatkis beland waarin liefhebbers van sy woordkuns hulself weer en weer kan verdiep.

Steyn, skrywer van onder meer die Kraal Uitgewers-publikasie “Ons gaan ’n taal maak”: Afrikaans sedert die Patriot-jare, vier later vandeesmaand, op 31 Julie, sy 80ste verjaardag. Gedurende sy glorieryke loopbaan in die akademie en as letterkundige het Steyn minstens 13 niefiksiepublikasies die lig laat sien, terwyl hy ook veral in die 1970’s en 1980’s naam gemaak het in die Afrikaanse letterkunde met werke soos die digbundel Die grammatika van liefhê, waarvoor hy met die Eugene Marais-prys vereer is. Sy omvangryke werke oor die lewe van die skrywers M.E.R. en N.P. van Wyk Louw het ook sy uitsonderlike vaardigheid as taalhistorikus vertoon.

Daar was vele hoogtepunte in dié skrywer se loopbaan, maar as jy hom daaroor uitvra sonder hy veral sy twee groot werke – oor die lewe van N.P. van Wyk Louw én “Ons gaan ’n taal maak” – uit. “Die eerste was seker die moeilikste stuk werk wat ek moes aanpak, omdat Van Wyk Louw so ’n kardinale rol in die Afrikaanse letterkunde en die Afrikanergemeenskap gespeel het. Vir die tweede het ek min tyd gehad sodat ek baie intensief daaraan moes werk, maar dit was iets waarvan ek baie gehou het, veral die eerste hoofstukke tot so 1960. Dit het by Kraal verskyn en dit was baie lekker om met mense soos Ilze Nieuwoudt en Alana Bailey saam te werk,” verduidelik Steyn.

Die druk wat Afrikaans as taal ondervind, is ’n saak waaroor Steyn lank reeds uitgesproke standpunt ingeneem het. Die stryd vir die beskerming van Afrikaans het hom allermins hopeloos gelaat, hoewel hy altyd realisties na die toenemende druk op die taal kyk. Hy hou vol dat daar nog werk gedoen moet en kan word. “Die grootste werk vir die nabye toekoms is aktivisme om soveel moontlik onderwys deur middel van Afrikaans te probeer behou en daarmee saam om ons eie instellings op te bou. Ek is so dankbaar die Solidariteit Beweging neem die voortou met albei.”

Oor die afgelope ses dekades het die taalmeester en woordsmid sy woordvrug in oorvloed bly deel – al wou hy dalk die sinne eers vir homself hou. Tog het Steyn nog steeds talle drome van boeke en verhale wat net wag om vertel te word, en blyk dit dat sy woorde én sinne lank nog nie klaar geskryf is nie. Oor dit wat lesers in die toekoms van hom kan verwag, is hy duidelik: “Hopelik sal ’n boek oor ’n paar taalaktiviste by Kraal verskyn. Dit gaan oor die belangrike bydraes van staatsmanne soos president M.T. Steyn en generaal J.B.M. Hertzog, en skrywers soos J.H.H. de Waal en C.J. Langenhoven om gelyke regte vir Afrikaans en Engels te verwerf in die twintigste eeu. Verder hoe ons vanaf die 1990’s terugbeweeg het na ’n oorwegend Engelse openbare lewe en Van Wyk Louw se opvattings oor taalbewegings en wat Afrikaanssprekendes te doen staan in ’n krisistyd.”

Hierna sien Kraal én liefhebbers van Steyn se werk uit. Mag sy pen se ink nog lank ná sy 80ste lewensjaar bly vloei.

’n Kort biografie van ’n taalmeester

Jaap Steyn is op 31 Julie 1938 in die Fouriesburg-distrik in die Vrystaat gebore. Teen 1944 verhuis die gesin na die Petrus Steyn-omgewing en dit is hier by die plaaslike laer- en hoërskool wat Steyn sy skoolloopbaan voltooi.

Ná skool studeer hy voltyds aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat en behaal sy BA-graad met Afrikaans/Nederlands en Duits as hoofvakke. Hierna sit hy sy nagraadse studies deeltyds voort, terwyl hy by die redaksie van die Bloemfonteinse koerant Die Volksblad aansluit. Vanaf 1964 tot 1967 studeer hy aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam en slaag sy doktorale eksamen (in linguistiek) met lof. In 1968 behaal hy sy doktoraal aan die Universiteit van Port Elizabeth.

Steyn was gedurende sy loopbaan as dosent, professor en navorser verbonde aan verskeie universiteite, naamlik die Universiteit van Port Elizabeth (1968-1970), die Randse Afrikaanse Universiteit (1970-1985) en die Universiteit van die Vrystaat (1985-1997). Gedurende dié tyd was hy ook vir ʼn wyle ʼn senior redaksielid by die Sondagblad Rapport.

Tientalle prominente publikasies, vakkundige tydskrifartikels en artikels vir hoofstroommedia het uit die pen van Jaap Steyn verskyn.

* (J.C. Steyn, uit: “Woord en sin”, Die grammatika van liefhê, Tafelberg, 1975)