Boekedag 2016: Lees, lees, lieflike lees!

Boeke, boeke en nogmaals boeke – dit is wat op ieder en elk wag wat Boekedag 2016 op 20 Februarie gaan bywoon. Boekliefhebbers kan daarom solank hul vere regskud vir ’n fees van boeke, skrywers en selfs boekvoorlesings vir die kleinspan. Dié geleentheid word vanjaar vir die eerste keer op die Diamantvallei-landgoed, oos van Pretoria aangebied.

Kraal Uitgewers, handelaars van tweedehandse boeke en verskeie ander uitgewers sal vanjaar hier uitstal.

Die skrywersgesprekke onder leiding van gespreksleier Martin Jansen (prominente radio-omroeper) beloof om een van die hoogtepunte op vanjaar se Boekedag-program te wees. Jansen sal onder meer in gesprek tree met dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit en skrywer van die gewilde Kraal Uitgewers-publikasie Begrond.

Die Grensoorlog en spesifiek die Suid-Afrikaanse Polisie se betrokkenheid by dié oorlog sal ook onder die loep geneem word in ’n vuurwarm gesprek met Louis Lubbe, skrywer van die boek Van Ovamboland tot Masjonaland.

Die kleinspan word spesifiek uitgenooi om dié dag by te woon. Boekvoorlesings en -vertolkings sal hulle die wonderwêreld van boeke laat ontdek. ʼn Voorlesing deur Ria Claassen, skrywer van die eg Suid-Afrikaanse kinderboek Waar bome groei, is maar net een van die prettige items op die kinderprogram.

Waar bome groei, Van Ovamboland tot Masjonaland en Begrond is beskikbaar by Kraal Uitgewers en sal teen ʼn spesiale Boekedag-prys beskikbaar wees. Moenie dié geleentheid misloop nie.

Vir ʼn volledige program volg die Boekedag-groep op Facebook. Klik hier.