Boekgesprek: Die oorlog aan die grens

Kraal Uitgewers bied op 11 April 2018 ’n boekgesprek in Centurion aan waartydens die skrywers dr. Leopold Scholtz en Louis Lubbe die hoogte- en laagtepunte van die Grensoorlog gaan laat herleef. Die gesprek sal fokus op hul nuutste publikasies, onderskeidelik Ratels aan die Lomba: Die storie van Charlie-eskadron en From Cunene to Cabo Delgado.

Die joernalis en historikus, dr. Leopold Scholtz, is die skrywer van sewe boeke waaronder Die SAW in die Grensoorlog. In sy nuutste boek, Ratels aan die Lomba: Die storie van Charlie-eskadron, ontmoet die leser die groep jong dienspligtiges wat in Oktober 1987 aan ’n kritieke geveg aan die Lombarivier, in die suide van Angola, deelneem. Die groep staan bekend as Charlie-eskadron, die sogenaamde ystervuis van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep. Met soveel wat teen hulle tel – die terrein, die getalsoorwig van die Angolese mag en wapentuig – slaag hulle tog daarin om die Goliat te oorwin en die Angolese 47 Brigade so te sê uit te wis.

Louis Lubbe volg sy Grensoorlogpublikasie, Van Ovamboland tot Masjonaland, nou op met nog ’n indrukwekkende publikasie oor die oorloë waaroor niemand wil praat nie. Die fotoboek From Cunene to Cabo Delgado bevat nagenoeg 500 foto’s. Elke aspek van die oorloë wat oor ’n tydperk van 28 jaar in Suidwes-Afrika, Angola, Rhodesië en Mosambiek gewoed het, word op ’n treffende en soms selfs skokkende wyse uitgebeeld. Vir die samestelling van hierdie boek het Lubbe ongeveer 16 000 foto’s deurgesoek uit persoonlike versamelings van oudsoldate, joernaliste, oorlogskorrespondente en enigiemand anders wat op die regte oomblik gereed was om foto’s van die oorloë en die mense te neem.

Boekgesprek
Die publiek word hartlik uitgenooi om dié opspraakwekkende debat by te woon.

Datum: Woensdag 11 April 2018
Tyd: 18:00 vir 18:30
Plek: Kremetart-raadsaal (Solidariteit-gebou, h.v. D.F. Malan- en Unionlaan, Kloofsig) – Klik hier vir aanwysings

Bevestig asseblief bywoning voor of op 6 April 2018.
Bespreking is noodsaaklik aangesien beperkte plek beskikbaar is.

Beide publikasies sal by die geleentheid te koop wees (kontant of kaart).
Verversings word aangebied. Veilige parkering is beskikbaar.

Bevestig bywoning hier.