Boekgesprek – Weerbare weemoed: Vertalings van Luuk Gruwez se gedigte sedert 2008

Die Vrystaat Kunstefees bied vanaf 19 tot 22 April 2021 ’n Vlaamse Week aan waartydens bekende Suid-Afrikaanse en Vlaamse skrywers en digters gaan optree. Op Maandag 19 April om 17:30 gesels Luuk Gruwez en Hennie van Coller oor Weerbare weemoed. Hierdie regstreekse gesprek kan virtueel gevolg word op die Facebook-blad van die Vrystaat Kunstefees by https://www.facebook.com/vrystaatkunstefees.

Weerbare weemoed het aan die einde van 2020 by Kraal Uitgewers verskyn. Dit bevat ’n keur uit vier digbundels van Gruwez en is meesterlik uit Nederlands in Afrikaans vertaal deur Van Coller.

Gruwez is een van die mees gebloemleesde digters op die gebied van die Nederlandse taal. Sedert hy op twintigjarige ouderdom gedebuteer het, het hy verskeie toekennings vir sy werk ontvang. Hy woon in Hasselt, België en is ’n voltydse skrywer en digter. Sy gedigte word veral gekenmerk deur ’n besondere musikaliteit en veelvuldige klankbindinge. In Weerbare weemoed gebruik hy die skoonheid van die taal om oor aktuele lewenskwessies te besin en om te vergoed vir ’n onvolkome bestaan. Taal bring dus weerbaarheid en pantser jou teen die lewe – ’n universele tema waarmee ook Suid-Afrikaanse en Afrikaanse lesers kan identifiseer.

Van Coller is ’n gerekende en bekroonde letterkundige met jare se ondervinding as akademikus – eers aan die destydse Universiteit van Natal (Durban en Pietermaritzburg) en toe aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). Met sy grondige kennis van die Nederlandse taal en kultuur bied hy ’n uiters leesbare teks aan Afrikaanse lesers en bewys daardeur sy vakmanskap as literêre vertaler. Van Coller is ook vanjaar die medeontvanger van die gesogte Jan H. Maraisprys. Dit word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns toegeken vir ’n uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal.

Lees gerus ook die onderhoude met Luuk Gruwez en Hennie van Coller op Kraal Uitgewers se webblad by die volgende skakels:

https://www.kraaluitgewers.co.za/luuk-gruwez-die-klankryke-digter-van-weerbare-weemoed/  https://www.kraaluitgewers.co.za/hennie-van-coller-skepper-van-meesterlike-vertalings/