Danie en Hannie: ’n LIEFDE tot die dood toe

William Shakespeare se verhaal van Romeo en Juliet is dikwels vir mense die versinnebeelding van ware liefde – ’n liefde wat tot die dood toe sou hou. In die Suid-Afrikaanse geskiedenis is die ware lewensverhaal van Danie Theron en sy geliefde Hannie ’n bewys van liefde wat te midde van siekte en oorlog tot die dood toe triomfeer het. Onthou hierdie Valentynsdag iets van dié egte liefdesverhaal uit die verlede. 

Danie Theron se lewe en dood getuig van deursettingsvermoë, dapperheid én liefde. As stigter van die Theron Verkenningskorps (TVK) het hy gedurende die Anglo-Boereoorlog saam met sy nagenoeg 100 verkenners geveg, per fiets verken en inligting ingesamel oor die Britse magte.

Hy is op 9 Mei 1872 op Tulbagh gebore. Ná skool word hy ’n onderwyser en hou skool op Kroonstad. Kort daarna kwalifiseer hy as ’n prokureur en open sy eie praktyk op Krugersdorp. Dit is ook hier waar hy sy hart verloor op Hannie Neethling. Hulle raak verloof, maar in Augustus 1898 sterf Hannie aan longontsteking en word begrawe op hul familieplaas, Eikenhof, buite Johannesburg.

In ’n artikel deur John Stephens in Die Burger (2 September 2000) word vertel van ’n onderhoud wat Stephens in die 1970’s met Christiaan Neethling, ’n 78-jarige neef van Hannie Neethling, gehad het. Christiaan was maar ’n jong knaap van 8 jaar oud toe die oorlog in 1899 uitgebreek het, maar onthou nog die kuiertjies wat Danie met sy fiets by Hannie afgelê het vóór haar dood in 1898. Danie het die musikale Hannie, wat musiek en sang studeer het, oor naweke op Eikenhof besoek. Hulle het onder die eikebome op die familieplaas gekuier, en dikwels tennis gespeel. Kort ná een Saterdag se tenniswedstryd het beide Hannie en haar suster, Etta, wat twee jaar ouer was, begin siek voel, skryf Stephens. Hulle het longontsteking opgedoen en is albei die daaropvolgende Vrydag, op 29 Augustus 1898, dood. Hannie was maar 16 jaar oud en haar suster 18. By die sussies se begrafnis het Danie bloot omgedraai en gebroke die veld in gevlug.

Gedurende die oorlog het Danie die Neethling-familie nog gereeld besoek. Christiaan onthou een spesifieke keer. Dit was aand en Danie het aan die plaashuis se venster kom klop en sag gepraat met Hannie se ma. Ná sy besoek was Tannie Neethling se oë vol trane, verduidelik Christiaan, want Danie het gevra dat sy ’n kransie maak en dit die volgende dag op Hannie se graf sal plaas – die volgende dag was 29 Augustus 1900, die tweejaarherdenking van Hannie se dood.      

Enkele dae ná hierdie versoek is die 28-jarige Danie self dood. Hy het op 5 September 1900 gesterf toe hy op dié dag ’n Engelse konvooi bespied en besluit het om ’n lokval vir die konvooi te stel. Hy is egter verras deur vier Britse verkenners en is noodlottig getref.

In Maart 1903 is Danie, soos dit sy wens was, langs sy geliefde Hannie op die plaas met die eike begrawe.

Sommige reken dat dit juis Danie se gebroke hart was wat in die tyd ná Hannie se dood tot sy heldhaftige en sy kom-wat-wil-houding gelei het. Sou dit wees dat hy gereken het dat hy nie meer iets het om te verloor nie? Wat werklik in Danie se kop en hart aangegaan het in sy onverskrokke dade tydens dié oorlog, sal waarskynlik nooit met sekerheid gesê kan word nie. Oor sy doen en late is daar egter geen twyfel nie. Volgens die geskiedkundige Fransjohan Pretorius het generaal Louis Botha later oor Danie opgemerk: “Hy was as soldaat gehoorsaam en trou, as offisier onverskrokke en bekwaam, as krygsman ’n held. Nooit het ek iemand ontmoet wat meer deurtastend te werk gegaan het, wat opgewekter ’n moeilike taak volbring het nie, hetsy as leier, as spioen, of as aanvoerder by ’n aanval. Die woord ‘nee’ het Theron nooit geken nie. Wat aan hom opgedra is, het hy gedoen. Transvaal het geen dapperder man opgelewer nie.” 

(Bron vir foto’s van grafte: eGGSA library, Gravestones in South Africa, fotograaf: Derek Walker)