Die appelboom, die wilgerboom en die kremetartboom . . .

Wat gebeur wanneer ’n eiewys wilgerboom, ’n saggeaarde appelboom, ’n liggeraakte doringboom en ’n liefdevolle kremetart as’t ware in dieselfde tuin beland? In die pragtig geïllustreerde en eg Suid-Afrikaanse kinderverhaal Waar bome groei deur Ria Claassen (illustrasies deur Alzette Prins) kry hierdie bome lewe. Hulle lewens is egter nie sonder uitdagings nie, want terwyl die appelboom die boord en sy mense verkies, droom die wilgerboom van ’n lewe aan die oewer van ’n rivier met die wind wat deur sy takke waai. Die doringboom en kremetart wil ook hulle sin kry, maar hoe gemaak om almal tevrede te stel? Die wyse uil beraam ’n plan en span boonop die voëltjies van die veld in om te help.

Waar bome groei is beskikbaar teen slegs R120 en is die ideale geskenk vir jong lesertjies wat hierdie skoolvakansie onder die komberse wil inkruip, terwyl mamma of pappa dié lieflike verhaal voorlees. (Veral geskik vir kinders tot en met ongeveer agt jaar oud.)

As die kleinspan op soek is na meer lawwigheid en aksie is Mosambiek Moles en die kinderalbum Jonkman en Baartman sing lekker lawwe liedjies die antwoord.

Mosambiek Moles (beskikbaar teen R140) vertel die verhaal van ’n klein strandbrakkie, Tofi. Sy lewe op die strande van Mosambiek is besaai met grappige oomblikke. Hy is ’n hond met ’n plan, maar wat gebeur wanneer Tofi se pad met die rowwe Bruno s’n kruis? Vind uit in hierdie prettige boekie, ideaal geskik vir jong lesers tot en met agtjarige ouderdom.

As die langpad hierdie skoolvakansie dalk te lank raak, is lekker lawwe liedjies van die sangpaar Jonkman en Baartman net die ding om in te pak. Die album met sy 13 liedjies bied waarlik luistergenot vir die hele gesin en besing temas soos kleure, diere en syfers. Kliek hier om na ’n paar klankgrepe van dié lawwe liedjies te luister. Dié album is in die Kraal-winkel beskikbaar teen slegs R120.