Die bondgenote en dwarstrekkers van die Anglo-Boereoorlog

Veg of vrede? Voortveg of oorgawe? Bondgenote of dwarstrekkers? Die Anglo-Boereoorlog is bekend as ’n bittere stryd tussen die magtigste koloniale mag van die tyd, Brittanje, aan die een kant en die Boererepublieke van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en die Oranje-Vrystaat (OVS) aan die ander kant. Dié oorlog wat in Oktober 1899 uitgebreek het en tot die bittere einde in Mei 1902 geveg is, was egter nie net ’n stryd tussen Boer en Brit nie. Ernstige geskille rakende oorlogvoering het ook onderling tussen die leierskap van die twee Boererepublieke gewoed.

In sy nuutste boek getiteld Bondgenote en dwarstrekkers: Die Transvaalse en Vrystaatse regerings in die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 ondersoek die bekende historikus dr. Leopold Scholtz die soms wankelrige en wispelturige verhoudings tussen die Transvaalse en Vrystaatse leierskap. Bondgenote en dwarstrekkers is op 1 April in Pretoria bekendgestel en is die tweede boek in die Kraal Histories-reeks onder redaksie van prof. Fransjohan Pretorius.

Die boek is ’n uitvloeisel van Scholtz se meestersgraadverhandeling van 1971. “As redakteur het ek besef Scholtz se vergete studie verdien bekendstelling en groter blootstelling,” verduidelik Pretorius. Volgens hom bewys Scholtz in dié publikasie dat die “eenheid, samewerking en bondgenootskap” tussen die twee republieke nie as ’n gegewe aanvaar kan word nie en dat “die feite dikwels tweedrag en dwarstrekkery bevestig het”.

Die studie bevestig dat die leierskap nie altyd langs dieselfde vuur gesit het nie. Die grootste verskilpunt was, volgens Scholtz, die vraag rakende voortveg of oorgawe. “Vóór die oorlog was die Transvalers diegene wie se snellervingers gejeuk het, wat wou gaan Kakies skiet; die Vrystaters was diegene wat tot die uiterste wou gaan om oorlog te vermy,” verduidelik Scholtz. Sommige Transvaalse leiers, soos genl. Schalk Burger, het die Vrystaters selfs van lafhartigheid beskuldig, “maar toe die oorlog teen die republieke draai, was dit dieselfde Transvalers wat wou boedel oorgee, en dieselfde Vrystaters (veral pres. M.T. Steyn en genl. C.R. de Wet) wat hulle herhaaldelik moes moed inpraat om voort te veg.”

Die Politieke Verbond wat in 1889 tussen die ZAR en die OVS aangegaan is, het bepaal dat die twee republieke mekaar te hulp sou snel as hulle onafhanklikheid bedreig word. Dit is juis hierdie verbond wat uiteindelik die OVS by die oorlog teen Brittanje betrek het. Hoewel verwag kan word dat die OVS se leierskap ’n mindere rol in die stryd sou speel, was dit veral later in die oorlog, nadat pres. Paul Kruger van die ZAR na Europa vertrek het, die Vrystaatse leiers wat die sterkste na vore gekom het. “Die sterk leierskap wat van Steyn en De Wet uitgegaan het, het die Transvalers duidelik ongemaklik gemaak en soms geïrriteer. Maar dit het hulle op belangrike momente bemoedig en krag verleen in moeilike tye,” meen Scholtz.

Uiteindelik sou die Britte die krake in die verhouding tussen die twee republieke uitbuit. Dit het gevolg nadat Steyn se vertroulike korrespondensie in Julie 1901 in Britse hande geland het en lord Kitchener kon sien hoe die “wind tussen die twee regerings waai”, sê Scholtz. Aangesien die Britte nou geweet het dat die Transvalers nader aan breekpunt as hul susterstaat was, is besluit om vroeg in 1902 ’n bemiddelingsaanbod slegs aan die Transvaalse regering te stuur. Dié optrede het boonop verdere spanning tussen die twee republieke se leierskap veroorsaak.

Die uiteenlopende standpunte wat gedurende die oorlog tussen die twee republieke ingeneem is, is wel volgens Scholtz niks vreemds nie. Hoewel die inwoners van die destydse twee state vandag as ’n byna homogene groep geag word, was dit allermins die geval. “Daar was duidelike verskille,” verduidelik Scholtz. “Die Amerikaanse skrywer James Bryce het die Vrystaat op ’n keer ’n ‘modelrepubliek’ genoem. Die Grondwet was kort, helder, duidelik en die politieke verhoudings op die verkryging van konsensus gemik.” Daarteenoor het Transvaal ’n “verwarde” Grondwet gehad. “Die Transvalers het veel meer onderling rusie gemaak. Daar was selfs korrupsie in Kruger se regering, iets wat nie in die Vrystaat voorgekom het nie.”

Uiteindelik sou verskille tussen die twee groepe ernstige gevolge vir oorlogvoering tydens die Anglo-Boereoorlog inhou en selfs voortduur terwyl vrede by Vereeniging onderhandel is. Bondgenote en dwarstrekkers bied talle voorheen onbekende feite oor die oorlog en beloof om verskeie ou, gevestigde sienswyses te wysig.

Besoek www.kraaluitgewers.co.za om Bondgenote en dwarstrekkers aanlyn te bestel.