Die dood van De la Rey 

Dit is vandeesweek reeds 106 jaar sedert die legendariese genl. J.H. (Koos) de la Rey in 1914 gesterf het. Hoewel hy meestal bekend is vir sy leeueaandeel in die Boererepublieke se stryd teen die Britse magte gedurende die Anglo-Boereoorlog, bly sy dood steeds ’n saak wat tot vandag toe mense se verbeelding aangryp.

De la Rey se teenkanting teen die Suid-Afrikaanse unieregering se besluit om in 1914 Duitswes-Afrika in te val was geen geheim nie. Genl. Louis Botha het besluit om die Unie, namens Brittanje, by die Eerste Wêreldoorlog te betrek. Dié besluit het as’t ware die nasie in twee geskeur – aan die een kant mense soos De la Rey wat verraai gevoel het en aan die ander kant burgers wat dit as hul plig beskou het om Botha na te volg.

Die dag wat uiteindelik sake op die spits sou dryf vir De la Rey was 15 September 1914. Vroeër dieselfde dag het genl. Christiaan Beyers as hoof van die Unieverdedigingsmagte bedank, juis omdat hy self ook nie aan die beplande inval in Duitswes wou meedoen nie.

Volgens ’n artikel wat in 1976 in die vaktydskrif Scientia Militaria (South African Journal of Military Studies) verskyn het, het Beyers en De la Rey omstreeks 16:00 by die huis van Beyers se broer in Walkerstraat in Pretoria byeengekom, aandete genuttig en gereedgemaak om na Potchefstroom te vertrek. Hier was De la Rey van plan om by die militêre kamp aan die mans teenwoordig te verduidelik waarom hulle teen die planne van die regering was “en om dan die saak in die hande van die volk te laat”.

Die skrywer beweer dat die bestuurder van die motor waarin Beyers en De la Rey gereis het, mnr. Wagner, blykbaar kort vóór hul vertrek gesien het hoe ’n jong konstabel die motor se registrasienommer neergeskryf het. ’n Familielid van Beyers, adv. Maritz, het ook, volgens die artikel, kort ná De la Rey en Beyers se vertrek ’n gewapende konstabel in die omgewing teëgekom wat aangevoer het dat die polisie na die berugte Forster-bende op soek was.

Vroeër dié dag het die polisie wel die Forster-bende by ’n huis in Regentspark aangekeer, maar die bendelede het daarin geslaag om te ontsnap en het boonop een van die drie betrokke polisielede doodgeskiet. Slegs enkele dae vantevore, op 12 September, was die bende in nog ’n skermutseling met die polisie betrokke waartydens twee polisielede gedood is. Daar is berig dat die bende ná die geveg op 15 September in ’n swart motor in ’n oostelike rigting gevlug het. In ’n poging om die bende vas te trek is besluit om padblokkades rondom die Witwatersrand op te stel. Dit is egter inderhaas gedoen, en getuienis het later bevestig dat die opdraggewing aan polisielede ten opsigte van die blokkades nie voldoende was nie.

Volgens die Scientia Militaria-artikel het die De la Rey-geselskap ongeskaad deur drie padblokkades gery by Orange Grove, Vrededorp en Fordsburg. Later het die polisielede aan diens by dié punte getuig dat hul opdrag was om slegs op ’n swart motor, met drie insittendes, wat na voortvlugtendes lyk en weier om te stop, moes skiet.

By die vierde padblokkade, in Langlaagte, het sake skeefgeloop. Konstabels Charles Drury en Charles Ives was aan diens en toe die De la Rey-motor nie aan Drury se opdrag om stil te hou gehoor wou gee nie, het hy ’n skoot op die verbygaande motor gevuur. “Volgens hom wou hy die regterkantste band stukkend skiet. Die koeël het egter die grond geraak en opgeskiet. Die motor het aanhou ry, maar na sowat 200 meter omgedraai en na die padblokkade teruggery,” lui die getuienis jare later.

Die koeël het De la Rey in die rug getref. Sy laaste woorde was bloot: “Dit is raak.” Sprake dat die padblokkade bloot deel van ’n komplot was om De la Rey te vermoor het in die dae en jare hierna die rondte gedoen, maar sonder enige klinkklare bewyse. Intussen wonder mense steeds.

Nog een dood . . .

Hoewel De la Rey se dood op 15 September 1914 die opspraakwekkendste sterfte van dié dag was, was dit egter nie die enigste wat na aanleiding van die padblokkades vir die bende plaasgevind het nie. Ene dr. en mev. G. Grace was dieselfde aand, om 19:00, op pad terug na hul huis in Springs. Op hul roete het hulle deur een van die polisie se versperrings gery, nadat dr. Grace na bewering nie die bevel om te stop gehoor het nie. Drie skote is op die motor gevuur en dr. Grace is noodlottig gewond. Sy vrou is in die aanval ook lig beseer.

(Bron: Scientia Militaria, South African Journal of Military Studies, vol. 6, nr. 3, 1976, pp. 7-23)