Die duurste oorlog van sy tyd kom tot ʼn einde

Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het op 31 Mei 1902, vandag presies 115 jaar gelede, tot ’n einde gekom. Dié oorlog was die duurste en grootste waarby Brittanje vanaf 1815 tot 1914 by betrokke was. Hoewel daar aan Britse kant oorspronklik gereken is dat die oorlog skaars drie maande sou duur, het die uitgerekte oorlog die Britte baie meer uit die sak gejaag as wat oorspronklik beplan is. Aanvanklik is gereken dat hoogstens 75 000 Britse soldate benodig sou word vir dié stryd, maar teen Mei 1902 sou dié syfer op nagenoeg 450 000 te staan kom. ʼn Oorlog met die twee oënskynlik nietige en swak Boererepublieke het Brittanje uiteindelik meer as £217 miljoen gekos.