Die eerste Helpmekaarbeweging

Jacob Elisa de Villiers van die Paarl, ook bekend as Japie Helpmekaar. Kraal Uitgewers-argief

deur Ilze Nieuwoudt 

Die 1914-rebellie het die nasie as’t ware in twee verdeel. Broer het teen broer geveg. Gemeentes het geskeur en rebelle is groot boetes opgelê en in die tronk gestop vir hoogverraad. Die Eerste Wêreldoorlog word dikwels verkeerdelik as die groot oorlog van Europa beskou, want dié oorlog het ook in Suid-Afrika se spreekwoordelike agterplaas én op die agterstoep gewoed. Dit het nie net die groot moondhede van Europa betrek nie, maar ook tot in die huisgesinne van Afrikaners haat en onmin gesaai. Tog het die Afrikanerrebellie wat na aanleiding van Suid-Afrika se beplande inval in Duitswes-Afrika uitgebreek het, ook positiewe gevolge gehad – die belangrikste was die totstandkoming van die Helpmekaarbeweging.

’n Gewapende opstand en ’n bittere einde

Die unieregering se planne om Duitswes-Afrika as deel van die Eerste Wêreldoorlog en Brittanje se oorlogspoging teen Duitsland, binne te val, het talle Afrikaners dwars in die krop gesteek. Die hartseer van die Anglo-Boereoorlog was nog vars in Afrikaners se geheue en die vooruitsig om skaars 12 jaar sedert vrede gesluit is, namens die Britte weer by ’n oorlog betrek te word, was vir talle ondenkbaar. ’n Gewapende opstand het onder ’n groep Afrikaners wat teen dié inval gekant was, uitgebreek.

Verskeie prominente leiers, insluitende genls. Christiaan de Wet, Christiaan Beyers en Manie Maritz, het aan die opstand – later bekend as die Rebellie – deelgeneem. Die Rebellie, wat teen Oktober 1914 plek-plek uitgebreek het, het teen Februarie 1915 uitgewoed. Teen dié tyd was Beyers reeds dood, De Wet gevange geneem en Jan Kemp en Maritz tot oorgawe gedwing. Die Rebelle kon uiteindelik nie veel uitrig nie en talle burgers het boonop lang tronkstraf en boetes in die gesig gestaar.  

Die nood druk, maar hoop wink

Die plundering van winkels en privaat eiendom tydens die Rebellie was nie ongehoord nie en na afloop daarvan het eise teen die Rebelle ingestroom. Boonop is Rebelle ook stywe boetes opgelê. Die gesamentlike boetes en eise teen Rebelle het ongeveeg £400 000 beloop. Talle Rebellie-gesinde Afrikaners was op die randjie van bankrotskap gelaat.

Rebelle is egter nie aan hul eie lot oorgelaat nie en teen 1915 is ’n beweging begin om fondse vir die boetes en eise teen die Rebelle in te samel. ’n Prokureur van Bethlehem, R.A.T. van der Merwe, het die stand van sake soos volg gestel: “Ons het almal saam geprotesteer en saam die skade gedoen en kon nie toelaat dat een (of ’n paar) van ons almal se skuld betaal nie. Daarom is toe besluit om die Helpmekaarvereniging te stig en saam te werk om die skuld te betaal.” Daar is gepraat van “saamdra en saamwerk”.

So help almal mekaar

Fondse vir die afbetaling van Rebelle-skuld het in Bethlehem, Reitz en Lindley begin en is later ook op Heilbron, Frankfort, Vredefort en talle ander dorpe van stapel gestuur. Name soos Reitz Helpmekaarvereniging en die Lindley Helpmekaar Sindikaat is gebruik. Die gevoel van “Helpmekaar” het landwyd posgevat en volgens ds. J.D. Kestell was mense se gewilligheid om tot die saak by te dra aandoenlik – ryk én arm het gegee. Teen 1917 het die Vrystaat, wat die ergste skuld gely het, ten spyte van al die skenkings nog £110 000 geskuld.

In Julie 1917 het die Kaaplandse Helpmekaar besluit om ’n fonds te stig om die laaste skuld te delg en Helpmekaardag is vir 10 November daardie jaar vasgestel. Vanaf Julie tot November het De Burger 25 hoofartikels oor die Helpmekaarbeweging geplaas. Die taalhistorikus Jaap Steyn skryf soos volg daaroor in Afrikanerrebellie, 1914-1915 (onder redaksie van A.W.G. Raath en Danie Langner): “Die hoofartikels het ’n diep indruk op onder andere Jacob Elisa de Villiers van die Paarl gemaak. Hy het ’n brief geskryf wat De Burger op 5 September in ’n hoofartikel aangehaal het. De Villiers het gesê hy is gewillig om £500 tot die Helpmekaarfonds by te dra, indien daar oor die hele land 500 mense gevind kon word wat elk £100 sou gee.” De Villiers sou later bekendstaan as Japie Helpmekaar.

Die Beweging het vlam gevat en twee dae vóór Helpmekaardag was daar reeds 1 187 honderdponders. Ná Helpmekaardag was daar steeds ’n oorskot van £60 000. “Die sukses van die Helpmekaarbeweging het Afrikaners laat besef dat hulle, ondanks die algemene armoede, heelwat geld het,” skryf Steyn.

Uit die oorskot van die fondsinsameling is die Helpmekaar Studiefonds op die been gebring, ’n fonds wat in 2016 sy 100ste bestaansjaar gevier het. Volgens die Fonds se webblad het sy bates teen 2014 nagenoeg R183 miljoen bedra – ’n bewys dat baie bietjies baie maak.

Vandag staan die Solidariteit Beweging ook bekend as ’n moderne Helpmekaarbeweging, waar saamdra en saamwerk weer die oogmerk is.