Die groot storie van die Groot Gat

Deur Ilze Nieuwoudt

Die naam Colesberg-koppie beteken moontlik vir die meeste van Suid-Afrikaners vandag nie veel nie, maar sê net “die Groot Gat” en almal weet dadelik waarvan jy praat. Hierdie plek is veel meer as net ʼn gat in die aarde. Kimberley en die gat het ʼn roemryke geskiedenis en ʼn noemenswaardige storie om te vertel.

Die stad Kimberley, geleë in die hedendaagse Noord-Kaap, is ʼn plek wat in die warboel van fortuinsoekers na diamante ontwikkel het. Dit is juis hier waar ʼn bomenslike groot gat vandag die blywende bewys is van die dae toe duisende mense van regoor die wêreld hierheen gestroom het in die hoop om gou skatryk te word.

Die Groot Gat, soos wat die terrein in Kimberley bekendstaan, was nie altyd ʼn gat nie. Die landskap in die einste plek het nagenoeg 140 jaar gelede heeltemal anders daarna uitgesien  – inteendeel, daar waar die gat oor ʼn area van 17 hektaar strek, was eens ʼn koppie. Oor ʼn tydperk van net meer as 40 jaar het die delwers die koppie stukkie vir stukkie weggekap en graaf vir graaf in die aarde ingedelwe op soek na net nog ʼn blink diamant. Die Kimberley-myn het uiteindelik in sy leeftyd meer as 2 700 kg diamante opgelewer.

Die blink begin van diamante

In 1867 merk die 15-jarige Erasmus Jacobs ʼn interessante klip aan die oewer van die Oranjerivier, naby Hopetown, op en ontdek daarmee, sonder dat hy dit besef, die eerste diamant in Suid-Afrika. Die blink klip word later aan ene Schalk van Niekerk verkoop sonder dat hy besef het dat dit in werklikheid ʼn knoets van ʼn diamant van 21,25 karaat was. Kort voor lank is vasgestel dat die klip wel ʼn diamant is nadat dit na bewering deur die pos vir ʼn minerale kenner in Grahamstad gestuur is. Hierdie legendariese diamant kry later die naam “Eureka” en hoewel dit in die jare na sy ontdekking verskeie eienaars gehad het, is dit uiteindelik ʼn eeu nadat dit ontdek is deur die De Beers-myngroep gekoop en aan die Suid-Afrikaanse gemeenskap geskenk. Die geslypte weergawe hiervan is 10,73 karaat en is vandag nog op uitstalling in die mynmuseum in Kimberley.

ʼn Paar jaar later het Van Niekerk nog ʼn diamant wat in dieselfde streek as die Eureka-diamant gevind is, verkoop vir £11,200 waarna dit in Londen vir £25,000 herverkoop is. Hierdie diamant is later die Ster van Afrika genoem.

Groot begin met groot diamant

In 1871 is ʼn diamant van 83,5 karaat op die plaas Vooruitzight teen die hange van die Colesbergkoppie gevind. Met dié ontdekking het die nuus van diamante soos ʼn veldbrand versprei en binne net ʼn maand is nagenoeg 800 kleims teen die koppie afgesteek. Uiteindelik is die koppie in so ʼn mate gemyn dat dit gelyk met die grond was. Daarna is dit in ʼn reuse, groot gat omskep.

Die lewe op die myn was hard en word deur sommige selfs as ellendig beskou. Die meeste delwers het in ʼn karige tentjie tuisgegaan en hitte was een van die grootste probleme vir die mense wat hierheen gestroom het.

Die rykstes van die rykstes

Die ontwikkeling van die diamantbedryf in Kimberley het uiteindelik tot geweldige rykdom vir ʼn handjievol mense gelei. Mense soos Cecil John Rhodes en Barney Barnato is van die bekendstes wat hul rykdom by Kimberley se diamantveld gemaak het. Die ontwikkeling van ʼn magtige mynmaatskappy was hoofsaaklik die werk van dié twee magnate. Barney Barnato het kleiner mynmaatskappye tot De Beers saamgesnoer terwyl Rhodes The Kimberley gevestig het. In 1888 is die twee maatskappye tot die De Beers Gekonsolideerde Myne saamgesnoer.

Teen Augustus 1914 is reeds 22,5 miljoen ton grond deur meer as 50 000 myners gemyn, wat nagenoeg 2 722 kg diamante opgelewer het.

Die uniekheid van die Groot Gat is daarin geleë dat dit die grootste gat ter wêreld is wat met mense-arbeid, ʼn pik en graaf uitgegrawe is. Dit is uiteindelik tot ʼn diepte van 240 m uitgegrawe, hoewel stortings die diepte intussen tot nagenoeg 215 m beperk het. Nagenoeg 40 m is tans onder water, wat beteken dat slegs sowat 175 m tans bo die water sigbaar is.

Kimberley: Die stad van eerstes

Kimberley het kort voor lank tot ʼn borrelende stad ontwikkel. In 1882 het dit die eerste stad in die suidelike halfrond geword om elektriese straatligte te installeer. Teen 1896 is Suid-Afrika se eerste mynskool hier geopen, wat uiteindelik na Johannesburg verskuif is en die voorloper van die Universiteit van die Witwatersrand was.

Vandag is die gat omtrent 1 600 m in omtrek, 215 m diep, 460 m in deursnit en dit strek oor ʼn oppervlak van 12 hektaar. Besoekers kan vandag die gat besoek en by die uitkykpunt die grootsheid hiervan aanskou. Hulle kan ook by die mynmuseum aandoen waar daar ook die eerste huis en kerk wat in die myndorp gebou is, besoek kan word. En dan ook ʼn draai by The Big Hole-besoekersentrum maak.

Die Groot Gat is soveel meer as net ʼn gat – dit vertel die verhaal van vergange dae, die verhaal van die vestiging van ʼn merkwaardige bedryf in die land en die verhaal van hoe klein blink klippies die lewens van derduisende mense vir altyd verander het.