Die grootste mynongeluk in SA-geskiedenis

Deur Ilze Nieuwoudt

21 Januarie 1960. Die dag waarop Coalbrook, ’n myndorpie net buite Sasolburg, oombliklik wêreldbekend geword het. Die dag waarop Suid-Afrika se grootste mynongeluk ooit die lewens van 435 mynwerkers geëis het.

Die destydse Clydesdale Transvaal Collieries het uit drie myne bestaan, naamlik Coalbrook-Noord, -Oos en -Suid. Die steenkool wat hier gemyn is, is aan die Taaibos- en Highveld-kragstasies voorsien. Coalbrook was nagenoeg 200 m diep – uitermatig diep vir ’n steenkoolmyn.

Volgens ’n artikel wat in 2006 in die tydskrif The Journal of the Southern African Mining and Metallurgy verskyn het, het ’n afdeling van die noordelike deel van Coalbrook om 19:00 op 28 Desember 1959 ineengestort. Een mynwerker is beseer en niemand is dood nie, maar selfs toe ’n myninspekteur twee weke later ’n roetine-besoek aan die myn bring, is die gebeure nie onder sy aandag gebring nie. Verder het die rekords van sy besoek ook geen abnormaliteite getoon nie.

Skaars 24 dae later het ’n deel van die myn met geweldige knelslae stuk vir stuk ineengestort. Hoewel sommige afdelings se myners vroegtydig uit sekere dele van die myn verwyder is toe die oorspronklike ongerymdhede geïdentifiseer is, het dit die probleem by die sogenaamde Afdeling 10 van die myn vererger. Dié deel van die myn het ineengestort en het daarmee saam 435 myners na hul dood gestuur.

Skokgolwe is deur Suid-Afrika gestuur en kort voor lank was die toneel ’n skouspel vir talle media.

In die ure en dae wat op die ongeluk gevolg het, het die wêreld angstig gewag op nuus van die vasgekeerdes. In ’n telegram wat op 22 Januarie deur die privaat sekretaris van die koningin van Engeland na Suid-Afrika gestuur is, dring sy daarop aan om ingelig gehou te word van die vordering met die reddingsoperasie by Coalbrook.

Intussen stroom telegramme van ondersteuning van oor die wêreld na Suid-Afrika. Telegramme met boodskappe van medelye word ontvang van die destydse president van Federale Duitsland, Heinrich Luebike, president Dwight Eisenhauer van die VSA en die koningin van Nederland, koningin Juliana.

Reddingspanne het onverpoos voortgewerk in pogings om oorlewendes uit die myn te red, maar hul pogings was sonder sukses. Daar is uiteindelik op 5 Februarie – reeds meer as twee weke ná die ongeluk besluit om reddingsoperasies te stop. In ’n telegram aan koningin Elizabeth skryf C.R. Swart (destydse goeweneur-generaal) “dit is met diepe berou dat ek u moet inlig dat daar geen verdere hoop is om die manne wat vasgekeer is in die Coalbrook-myn lewendig te vind nie”.

Die mynwerkers se lyke is nie gevind nie en het in die massagraf diep in die aarde gebly. Die rede vir die ineenstorting van Coalbrook is nooit werklik bepaal nie, hoewel talle meen dat van die stutpilare in die myn eenvoudig nie die gewig kon dra nie en meegegee het.

*Nóg ’n skokkende mynramp het Suid-Afrika in 1986 getref toe 177 mynwerkers by die Kinross-goudmyn dood is.

Mynrampfonds word gestig vir familie van oorledenes

Kort ná die Coalbrook-mynramp het die goewerneur-generaal besluit om ’n nasionale mynrampfonds te stig om die weduwees en familie van die oorledenes van Coalbrook, sowel as ander mynrampe, te ondersteun. In ʼn mediaverklaring wat op 23 Junie 1960 aan die media uitgereik is, verduidelik die Nasionale Komitee van die goewerneur-generaal dat daar reeds sowat £55 000 in die nasionale mynrampfonds is. Bydraes vir die fonds het van onder meer die VSA, Oostenryk, Swaziland en die Verenigde Koninkryk ingestroom.

Weduwees en kinders van oorledenes het ’n maandelikse betaling vanuit die fonds ontvang. In Junie 1960 het weduwees R26,40 per maand ontvang, terwyl elke kind R13,20 betaal is.   

(Bron: Beyond Coalbrook: What did we really learn? Deur J.N van der Merwe soos gepubliseer in The Journal of Southern African Institute of Mining and Metallurgy. Desember 2006)