Die jonge held – Dirkie Uys

Dirkie Uys, ʼn jong seun in die Groot Trek, se dapperheid bly vandag nog wonderbaarlik, nagenoeg 170 jaar sedert sy dood in 1838.

Bronne verskil oor Dirkie se presiese ouderdom – terwyl sommige meen hy was skaars twaalf jaar oud ten tye van sy dood, meen ander hy was dertien en sommige selfs 15. Hoe dit ook al sy – hierdie jong tienerseun het in April 1838 die hoogste prys betaal uit diepe liefde vir sy pa.

Volgens oorlewering speel Dirkie se verhaal af in ʼn droewige tyd kort ná die moord op die Voortrekkerleier Piet Retief in Februarie 1838. Nadat die Natalse Trekkers  ʼn beroep gedoen het op die Vrystaatse trekkers om te kom help,  is daar besluit dat ʼn Hendrik Potgieter en Piet Uys, Dirkie se pa, ‘n strafekspedisie teen die Zoeloes sou lei.

Hierdie straftog het tot die Slag van Italeni gelei. Die presiese gebeure is nie duidelik nie, maar volgens die bekendste weergawe was Dirkie saam met sy pa in die slag.

Die slag van Italeni het plaasgevind aan die oewer van die Blaaukransrivier in die huidige KwaZulu-Natal. Uys en Potgieter het met nagenoeg 350 manskappe op 5 en 6 April hier stelling ingeneem. Op die 9de is ʼn paar impi’s opgespoor en gevangene geneem. Dié vertel dat die Zoeloes naby Ungungluvu kamp opgeslaan het. Sowat 6 km daarvandaan tref die trekkers wel nagenoeg 8 000 Zoeloe-impi’s aan.

Volgens oorlewering is Piet tydens die slag gewond toe hy twee van sy vasgekeerde manskappe – die Malan-broers – gedurende die slag wou gaan red. Bronne meen dat ʼn groep van 15 manskappe, waaronder Dirkie, saamgekom het om die broers te gaan red.

Tydens hierdie reddingstog word Piet self ook gewond en val ʼn paar keer van sy perd af.

Met Dirkie ʼn ent voor sy pa hoor die seun sy pa uitroep. Piet beveel sy manne om hom agter te laat. Hy roep ook uit dat Dirkie en die ander manne eerder hulself moet red. Toe Dirkie hierdie woorde hoor, draai hy sy perd om en skree dat hy saam met sy pa sal sterf. In die proses vuur hy skote op drie aanvallende Zoeloes wat op sy pa toesak. Die stryd is egter ongenadig en Dirkie word ook gewond. Hy val van sy perd af, digby sy vader en hier word albei bloeddorstig doodgesteek. Sommige weergawes van Dirkie se verhaal vertel dat Dirkie eerste doodgesteek is, waarna Piet toe ook om die lewe gebring is.

Daar is egter ook weergawes wat glo dat Dirkie en ander jong vegters agtergeraak het en deur die Zoeloes aangeval is. Die groep moes op ʼn plek ʼn stroom oor en hier het Dirkie se perd na bewering gestruikel en is die seun deur die Zoeloes oorval.

Dirkie se heldhaftige verhaal word so noemenswaardig geag dat die verhaal opgeneem is in een van die friese wat in die heldesaal van die Voortrekkermonument in Pretoria saamgestel is. Dirkie is nooit weer lewend gesien nie.

Die slag van Bloedrivier wat hierop gevolg het, het egter ‘n oorwinning aan die Voortrekkers gesorg. Hierna het die Trekkers na die oorskot van die Boereleier gaan soek. Sy liggaam is gevind, maar dié van sy heldekind Dirkie is nooit opgespoor nie.

Die legende oor wat met sy liggaam gebeur het, is bloeddorstig en vandag nog word die storie vertel dat Dirkie deur die Zoeloes gekook is – daar is egter geen feite wat dit steun nie.

Hoe dit ook al sy en watter weergawe van Dirkie se storie jy verkies om te glo, een ding bly seker – Dirkie se verhaal spreek van heldhaftigheid en beklemtoon dat die bydrae wat jong tieners en kinders as volwaardige Voortrekkers gemaak het, nie misken kan word nie.