Die keuses wat ons voorouers gemaak het, het grotendeels bygedra tot waar die Afrikaner vandag is

TIEN DAE VAN ERFENIS – DAG 10 : 24 SEPTEMBER 

Die keuses wat ons voorouers gemaak het, het grotendeels bygedra tot waar die Afrikaner vandag is. Hierdie historiese erfenis word vandag in perspektief geplaas. 

Wie is die Afrikaner?
In sekere sin was die heel eerste strategiese keuse wat die proto-Afrikaners van die 19de eeu gedoen het, om hoegenaamd tot stand te kom. Dit was ’n geleidelike proses wat pas onder druk van die Britse imperialisme ná die anneksasie van Transvaal in 1877 op dreef gekom het. Pas toe het sommige Afrikaners ontdek dat hulle één volk oor die destydse grense heen gevorm het. Feit is dat die Afrikaners voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog maar vaagweg van hul gesamentlike identiteit bewus was.

Van buite het die Nederlandse regsgeleerde E.J.P. Jorissen dit só waargeneem: “De Boer woonde op zijn eigen plaats, vrij van alle aanraking met de regeering: een koning op zijn eigen terrein. In zijn rust gestoord en gedwongen om zich met politieke zaken in te laten, waren ’t niet de belangen van het land of van den staat, maar die van zijne vrienden, zijne kliek of zijne kerk, die hij ter harte nam.”

Dié haas anargistiese individualiteit, so eie aan die pioniersituasie, het gemaak dat die Afrikanerbewussyn voor 1899 maar effens was. Dié stand van sake – ’n onderskeid tussen Boer en Afrikaner – is in 1900 treffend aan Oskar Hintrager, ’n Duitse vrywilliger by die Boeremagte, verduidelik:

Boer is een wat boer, ’n plattelandse bewoner van Suid-Afrika van Nederduitse, Hollandse of Franse afkoms. Afrikaner word diegene genoem wat afkomstig is van mense wat in Afrika gebore is en in stede woon in trotse teenstelling met die ook byna uitsluitlike stedelike Uitlanders. Uit hierdie ‘Afrikaners’ wat hulle opleiding hoofsaaklik te danke het aan ’n kollege in die Kaapkolonie [die Victoria-kollege, Stellenbosch] werf die Boererepublieke hul amptenare … die Afrikaners [het] heelwat gemeen met die Amerikaners, maar vir my is die land oor die algemeen 50-100 jaar agter die Verenigde State van Amerika in sy ontwikkeling.

Dit was dié “Afrikaners” wat die dryfkrag van die Afrikanernasionalisme ná 1902 sou vorm. Veral professionele middelklas-Afrikaners – predikante, joernaliste, onderwysers en ryker boere – het aan die voorpunt gestaan van die Afrikaners se ontdekking en ontwikkeling van hul etniese bewussyn, al noem Hermann Giliomee dit tereg “a slow and halting process”. Die proses sou eers teen die jare dertig en veertig – voorlopig – afgehandel word.

——————————

  • Bogenoemde is ’n uittreksel uit dr. Leopold Scholtz se boek Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste eeu.

Vier ons erfenis by Kraal Uitgewers
Kruispaaie: Afrikanerkeuses in die 19de en 20ste eeu deur Leopold Scholtz plaas die fokus op die Afrikaner se keuses wat nie net die geskiedenis in ’n sekere rigting gelei het nie, maar ook dié groep se wil om oorlewing sou beklemtoon. Dié kultuurgroep se stryd om oorlewing is duidelik in onder meer die vestiging van die Boererepublieke, die keuse om Afrikaans as taal te vestig, die herwinning van politieke mag in 1948 en uiteindelik die verlies van mag teen 1994. Lees meer oor dié boek hier.

 

 

Kraal Uitgewers sal vanaf 15 Desember 2017 tot 8 Januarie 2018 gesluit wees. Dismiss

AfriVriendelik-opleiding

You have Successfully Subscribed!