Die laaste boek in Kraal se Erwe-reeks bekendgestel

Die historikus en skrywer Pieter de Jager se lewenslange studie oor die Anglo-Boereoorlog in die Wes-Transvaal is op 23 Junie amptelik by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein bekendgestel. De Jager is ’n afgetrede boer en oudinwoner van Ottosdal in Noordwes. Klik hier om na die volledige klankopname van die bekendstelling te luister.

Die bekendstelling van Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 het saamgeval met die afskop van ’n historiese herdenkingsrit waartydens nege ruiters meer as 200 km te perd afgelê het. Hulle het verskeie historiese terreine en monumente op die pad tussen Bloemfontein en Kimberley besoek.

Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 is die sewende en laaste boek in Kraal Uitgewers se gewilde Erwe van ons vaad’re-reeks. Ander boeke in dié reeks sluit onder meer in Bannelinge in die vreemde (deur Elria Wessels), Onthou: Kronieke van vroue- en kinderlyding (deur Andries Raath en Elria Wessels) en Afrikanerrebellie, 1914-1915 (deur verskeie skrywers). Die wêreldbekende Vrystaatse fotograaf, Paul Alberts, het die reeks in 2005 tot stand gebring. Alberts se toewyding – ná sy dood voortgesit deur sy vrou Charmaine Alberts – en die bystand van prof. Andries Raath as reeksredakteur het verseker dat honderde voorheen ongepubliseerde foto’s oor die oorlog wat tussen 1899 en 1902 in die Boererepublieke gewoed het, in die reeks ingesluit is. Met die hulp van moderne tegnologie is ’n groot hoeveelheid foto’s gerestoureer en in die sewe publikasies van die Erwe-reeks ingesluit.

De Jager se militêre en historiese kennis, sowel as sy voorliefde vir die omgewing waar hy ’n groot deel van sy lewe deurgebring het, is gekombineer in Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog. Sy vorige boek Die Korannafonteiners: Stories oor Ottosdal en sy mense is in 2008 by Protea Boekhuis gepubliseer.

Volgens prof. André Wessels, senior professor in die Departement Geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat, wat ook as gespreksleier tydens die boekbekendstelling opgetree het, is Wes-Transvaal ’n “standaardwerk oor die Anglo-Boereoorlog se verloop in, en gevolge vir, die Wes-Transvaal … De Jager se navorsing is indringend en omvattend.”

’n Databasis met die besonderhede van nagenoeg 700 Wes-Transvaalse burgers wat tydens die oorlog omgekom het, sowel as dié van meer as 2 300 Wes-Transvalers wat deel was van die gebied se burgermag, sal binnekort op die uitgewer se webblad (www.kraaluitgewers.co.za) vrygestel word. “Dié name bied vandag nog aan ons ’n waardevolle skakel met die verlede en vertel die verhaal van rateltaai mense wat aan die Anglo-Boereoorlog deelgeneem het op die plek waar dit die felste geveg is – in die Wes-Transvaal. Die bekendstelling van Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902, sowel as die publikasie van hierdie omvattende naamlys, herinner ons vandag nog aan die ongenaakbaarheid van die oorlog en die bekende en minder bekende helde van die Wes-Transvaal. Mag ons hulle nooit vergeet nie,” sê Ilze Nieuwoudt, publikasiebestuurder van Kraal Uitgewers.