Die lang pad tussen De Brug en Petrusburg

Maandag 25 Junie 2018 (Dag 3)
Roete: De Brug tot Petrusburg (Kandirri Game Lodge)
Afstand: 52,7 km

Die lang pad tussen De Brug en Petrusburg

Herdenkingsritte 2018 se langste skof is vandag aangepak. Die meer as 50 km wat vandag afgelê moes word, het meestal langs die snelweg die roete tot verby Petrusburg gevolg. Dié Vrystaatse dorpie het sy eie unieke verhaal:

  • Dorpstigting: In die 1880’s is die Volksraad van die Vrystaat voor ’n gewigtige keuse gestel – om ’n dorp op die plaas Driefontein of op Emmaus te vestig. Erwe is reeds op albei plase uitgelê en boonop was Driefontein as sogenaamde kerkplaas vir die NG en Gereformeerde Kerke gekoop. Driefontein is uiteindelik aangewys as die geskikte ligging vir ’n dorp en word vernoem na Petrus Albertus Venter, uit wie se boedel geld geneem is vir die aankoop van die plaas. Die nuutgestigde dorp Petrusburg word uiteindelik in 1899 deur die eienaars aan die dorpsraad verkoop.
  • NG Kerk Petrusburg: Op 14 Januarie 1899 is die hoeksteen van die NG Kerk Petrusburg deur die destydse president van die Vrystaat, M.T. Steyn, gelê. Bouwerk is in dieselfde jaar nog afgehandel, maar ’n week voor die amptelike inwyding in Oktober breek die Anglo-Boereoorlog uit en al die gemeente se bedrywighede word tot stilstand geruk. Gedurende die oorlog het Britse soldate die gebou as huisvesting gebruik. Dit is egter feitlik onbeskadig gelaat. Die gemeente se leraar, ds. William Robertson, wat in Januarie 1893 as die eerste predikant hier bevestig is en daarna onder moeilike omstandighede die werk vir die op- en inrigting van die gemeente se pastorie en kerkgebou aangepak het, het Petrusburg tydens die oorlog verlaat en nooit weer teruggekeer nie.
  • Gereformeerde Kerk Petrusburg: Die gemeente Petrusburg is op 7 Februarie 1891 gestig nadat dit van die Fauresmith-gemeente afgestig het. Gedurende die Anglo-Boereoorlog is die gemeente se pastorie verwoes. Toe ds. L.J. du Plessis teen die einde van die oorlog terugkeer na die dorp, was die pastorie afgebrand en die kerkgebou geplunder (sien foto).
  • Begraafplaas: ’n Gedeelte van die begraafplaas in Petrusburg is afgesonder vir oorlogsgrafte en bevat beide Britse en Boere-grafte van die Anglo-Boereoorlog.

 


Volg die ruiters se vordering en herontdek saam met dié span die ryke geskiedenis van die gebied. Klik hier vir meer inligting oor dié rit. Bly op hoogte van gebeure by www.kraaluitgewers.co.za of op die groep se Facebook-blad @Herdenkingsritte. Kraal Uitgewers en AfriForum is trotse borge van vanjaar se rit.

Klik hier vir meer inligting oor Wes-Transvaal: Militêre brandpunt van die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902 of om die boek aanlyn te bestel.

Let asseblief dat bestellings via die SA Poskantoor gestuur tans vertraag word as gevolg van 'n staking Dismiss